Landelike gebiede in Ohangwena kry krag
Landelike gebiede in Ohangwena kry krag

Landelike gebiede in Ohangwena kry krag

Tuyeimo Haidula
Tuyeimo Haidula op Oshakati – Die Ohangwenastreek is volgende aan die beurt om te baat by NamPower se landelike kragvoorsieningsprojek waarvoor 'n bedrag van N$14 miljoen bewillig is.

Die projek, wat vandeesmaand afgeskop het en na verwagting teen September 2022 voltooi sal wees, behels die oprigting van netwerke vir medium- en laespanning in verskeie gebiede van die streek, naamlik Omauni, Onghalulu en Okanghalulwena in die Okongo-kiesafdeling.

In die Epembe-kiesafdeling sal die projek diegene in die Omishe-, Loide Nadunya- en Hafyenanye-woongebied bevoordeel. Gebiede in die Eenhana-kiesafdeling wat geoormerk is om by hierdie projek te baat, sluit in Onaisaati, terwyl Oshali Shakanalelo in die Endola-kiesafdeling ook op die lys is.

Die woordvoerder van die Ohangwena-streekraad, mnr. Panduleni Nepembe, het gesê die projek behels die konstruksie van 'n totaal van 50 km se oorhoofse lyne (33kV – mediumspanning), die installering van 11 transformators vir medium- tot laespanning, verspreidingstelsels vir laespanning en buite­beligting asook bedrading van die skoolgeboue.

Nepembe het gesê die projek sal krag voorsien aan verskeie staatsinstellings soos skole, klinieke, ekonomiese ­groeipunte en gemeenskapsgebiede in die streek.

Ses skole sal by die kragvoorsieningsprojek baat, asook agt stelle sakegroeipunte en verskeie rege­ringskantore in ongeveer vier kiesafdelings.

Die konstruksietender is aan Multi Solution CC toegeken, terwyl Lithon Project Consult­ants namens NamPower oor die projek toesig hou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer