Landbousektor vol kinderarbeiders
Landbousektor vol kinderarbeiders

Landbousektor vol kinderarbeiders

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - In 'n poging om kinderarbeid in Namibië hok te slaan, is veelvlakkige benaderings nodig.
Dit sluit in die aanvaarding en toepassing van wette om kinders te beskerm, goeie gehalte onderrig en opleiding vir kinders om aan die vereiste vaardighede vir die arbeidsmark te voldoen, sowel as toegang tot onderrig en gesondheidsorg.
Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se direkteur vir Namibië en Zimbabwe word die land se pogings om kinderarbeid in Namibië te takel, gelei deur internasionale protokol, wat die ILO se ­minimumouderdom vir toelating tot indiensneming insluit.
Me. Mopolang Phororo het, in aansluiting by Wêrelddag teen Kinderarbied wat gister gevier is, gesê studies deur die ILO se internasionale program vir die ­uitwissing van kinderarbeid (IPEC) in 2010 en 2012 het die hoë voorkoms van kinderarbeid in Namibië bevestig.
Plaaslik kom kinderarbeiders meestal in die landbousektor en in private huise as huishulpe voor.
Hulle werk lang ure, ontvang skamele salarisse en het geen werkskontrakte nie.
Volgens statistiek van 2013 het die globale aantal kinders betrokke by kinderarbeid met 'n derde verminder sedert 2000 - van 246 miljoen tot 168 miljoen. Meer as die helfte (85 miljoen) van hierdie kinders doen gevaarlike werk, teenoor die 171 miljoen in 2000.
Afrika suid van die Sahara is met 59 miljoen kinderarbeiders steeds die streek met die hoogste voorkoms van kinderarbeid.
Die landbousektor is met 98 miljoen kinderarbeiders steeds die sektor waar kinderarbeid die meeste voorkom.
Kinderarbeid onder meisies het met 40% sedert 2000 gedaal, teenoor die 25% vir seuns.
'n Derde van die 1,5 miljard mense in lande wat deur konflik, geweld en onstabiliteit geraak word en sowat 200 miljoen mense wat jaarliks deur rampe geraak word, is kinders.
“Kinders is onder dié wat die meeste geraak word wanneer basiese dienste onderbreek word. Ontwortelde kinders is dikwels weerloos teen kinderhandel en –arbeid,” het Phororo gesê.
Sy het gesê kinderarbeid is 'n komplekse probleem gewortel in armoede en 'n gebrek aan werk vir volwassenes.
Kinderarbeid beroof kinders van hul kinderjare, potensiaal en waardigheid.
Dit is skadelik vir hul fisiese en geestelike ontwikkeling.
Dit dwing hulle dikwels om skool voortydig te verlaat of skoolbywoning met swaar en lang werksure te kombineer. Vir werk om as kinderarbeid bestempel te word, hang dit af van die kind se ouderdom, die tipe werk en die ure wat gewerk word.
Die ILO ondersteun die regering sowel as werkgewers- en werkersorganisasies om modelle te ontwikkel om kinderarbeid uit te wis.
Ondersteuning sluit in beter wetgewing, groter toegang tot goeie gehalte onderrig, maniere om kinders uit kinderarbeid te verwyder en om gepaste alternatiewe aan hul gesinne te bied.

Kommentaar

Republikein 2026-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer