Landbou gee ekonomiese transformasie stukrag
Landbou gee ekonomiese transformasie stukrag

Landbou gee ekonomiese transformasie stukrag

Verskeie lesse is uit 'n onlangse Agra-verslag te leer.
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die Alliansie vir 'n Groen Revolusie in Afrika (Agra) het onlangs 'n verslag getiteld “The hidden middle: A quiet revolution in the private sector driving agricultural transformation” gepubliseer.

Hieruit is baie te leer oor hoe die landbousektor ekonomies getransformeer behoort te word.

By 'n vorige geleentheid is die voorbeeld gebruik van 'n atleet wat ná 'n besering eers moet rehabiliteer ­alvorens hy/sy weer kompeterend kan meeding.

Enige heropbou na afloop van 'n droogte sal dieselfde protokol moet volg. Hierdie verslag gee belangrike riglyne – veral wat uitvoergeleenthede vanuit suidelike Afrika betref.

Duidelike bewyse bestaan dat die Afrikaverbruiker landbouwaardekettings dwing om beter gehalte en ­veiliger voedsel te lewer.

Net so word waardekettings meer verbruikersgedrewe ten einde beter aan dié eise te kan voldoen.

Die landbousektor beweeg ook van 'n bestaansgerigte benadering na groter kommersialisering en winsgewende produktiwiteit – steeds op klein skaal, maar entrepreneursgedrewe.

Hierdie herskikking vind plaas te midde grootskaalse verstedeliking wêreldwyd, stygende inkomste en veranderde diëte.

Die “nuwe waardekettings” is hoofsaaklik kleinsakegedrewe met gevolglike stygende werkskepping en handel, agroverwerking, landelike handel en dienste. Die struktuur van dié markte verander.

Klein en medium ondernemings gee die pas in hierdie transformasie aan, want dit is die naaste wat 'n boer aan die mark kan kom.

Die sogenaamde kleinhandelaars bestaan hoofsaaklik uit diensver­skaffers na aan die boer en vorm die sogenaamde middelstroom, aldus die verslag.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie spelers in die mark tot 40% van die bruto waarde van waardekettings in Afrika suid van die Sahara verteenwoordig.

Dit is die enjinkamers van ekonomiese transformasie en word na verwys as die “verborge middel”.

Die verborge middel is egter nie die verlore middel nie, want hulle kan hul werk doen omdat hulle dikwels van beleidsdebatte uitgesluit word.

Wat belangrik is, is die ­ekonomiese nabyheid van dié diensverskaffers, wat klaarblyklik nie moontlik is waar groot korporatiewe spelers die mark betree nie. Die kleinhandelaars is dalk strategies minder skerp, maar takties vlugvoetig.

Die verslag lys 'n aantal baie ­belangrike boodskappe uit die ­navorsing.

Eerstens gaan dit oor die posisionering van kleinskaalse boerderye tussen kleinskaalse uitsetgedrewe besighede en insetverskaffers.

Winsgewendheid binne hierdie waardekettings is belangrike oor­wegings vir beleggers.

Beleggings beïnvloed weer plattelandse werksgeleenthede. Daar moet in gedagte gehou word tot 40% van landelike werkskepping is selfindiens­neming op plase, terwyl die waarde­ketting buite die plaashek 'n by­komende geskatte 25% tot landelike werkskepping bydra.

Dié twee bronne is interafhanklik.

Verder dui die navorsing daarop dat privaat inisiatiewe waarde buite die plaashek en nie tot die staat nie toevoeg.



uitvoergerigtheid

Derdens word tot 80% van voedselproduksie deur verbruikers benut, met slegs 20% wat vir plaasverbruik aangewend word.

Hierin speel die private sektor 'n ­belangrike rol en is dus van kritieke belang wat voedselsekuriteit betref.

Vierdens is Afrika se uitvoergerigtheid belangrik – slegs 4% van dit wat geproduseer word, word tans uitgevoer.­ ­Uitvoere sal na verwagting met verloop van tyd toeneem, maar sal meeding met wat Afrika self wil verbruik.

In die vyfde plek dui die belangrikheid van groei in klein- en mediumgrootte ondernemings op 'n stille revolusie, want hulle is onder die spreekwoordelike beleidsradar werksaam.

In Suid-Afrika is hierdie tipe besighede erg verwaarloos, maar kry tans dringend aandag op beleidsvlak.

Hierdie entrepreneurs se behoeftes verskil van dié van die groot korporatiewe ondernemings.

Vanuit 'n boerdery-oogpunt is die sesde boodskap dat privaat ­inisiatiewe grootliks by regerings in die verskaffing van insette oorneem.

Soms verloop ontwikkeling van suiwer regeringsgedrewe, tot vennoot­skappe met die staat, tot privaat of markgedrewe.

Daar is ook vangplekke soos waar insetverskaffers kortpaaie met substandaard insetprodukte soos saad, kunsmis, ensovoorts vat.

Waarborge by wyse van regulatoriese begeleiding bly belangrik om te verhoed dat boere in goeder trou handel en uitgebuit word.

Kortom, private aansporings of vryemark-gedrewenheid omskep landbou in lande suid van die Sahara en verander regeringsrolle.

Entrepreneurs gee die pas aan en ontsluit die landbou, skep werk en dra so tot broodnodige landelike ontwikkeling by.

Hul taktiese vlugvoetigheid ­verplaas die staat as ontwikkelings­impuls, maar skep terselfdertyd 'n ander rol vir die staat, naamlik een van verbeter­de oorsig.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer