Landbou bring dalk niu00e9 groei
Landbou bring dalk niu00e9 groei

Landbou bring dalk nié groei

Die instituut sê Namibië het goeie beleide en wette vir klimaatsverandering, maar die toepassing daarvan is ’n uitdaging.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Leiers en politici handhaaf onrealistiese verwagtinge as hulle hoop die landbousektor kan ’n bron van ekonomiese groei vir die land word.

Dít volgens die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) se mnr. Dietrich Remmert verlede week tydens hul eerste aanlyn uitsending.

Boonop word die reusekoste van nuwe waterinfrastruktuur onderskat, wat ontsoutingsaanlegte insluit, terwyl talle partye onbewus is van die spesifieke uitdagings wat klimaatsverandering inhou, het hy gesê.

“As jy met boere gesels en ook die wetenskap van klimaatsverandering oorweeg, is dit hoogs onwaarskynlik dat landbou in die toekoms ’n ‘groeimasjien’ vir ons ekonomie sal raak.

“Ons sal gelukkig wees as ons die huidige koers van ekonomiese groei in die landboubedryf kan volhou. Dienooreenkomstig het landbou se bruto binnelandse produk (BBP)-groei gestagneer,” het Remmert tydens die voorlegging van sy navorsingsartikel oor droogte, watertekorte en klimaatsverandering gesê.

Boonop meen hy Namibië se beleide en wetgewing oor droogte, watertekorte en klimaatsveradering is in konflik met mekaar.

Ook bestaan ’n ernstige gebrek aan die afdwing of implementering daarvan, veral wat die waterbestuurwet betref, het hy gesê.

“Die Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP5) het byvoorbeeld baie min inligting oor sonkrag of hernubare energie, terwyl ons klimaatsveranderingsbeleid klem daarop as sleutelstrategie lê.”

Namibië beskik oor beleide en wette om onder meer droogtes, waterhulpbronne en landbou te bestuur, asook ’n strategie en aksieplan spesifiek vir klimaatsverandering.

“Dit is baie goed om dit alles in plek te hê. Baie daarvan oorvleuel of neem ook ander eksterne faktore in ag. Dit is wat ons soek,” het Remmert gesê.

“Baie van ons beleide en wette beskik egter nie oor fyner besonderhede of vorderingsaanwysers nie. Baie hiervan is vaag en voorsien nie vir die impak van die jongste bevindinge deur die internasionale paneel op klimaatsverandering (IPCC) nie,” het hy gesê.

Hy sê talle berigte het die afgelope tyd oor klimaatverandering verskyn, terwyl die IPPC se prognose vir die Suider-Afrikaanse streek minder reën behels en dat gemiddelde temperature sterk sal styg.

“Veral Namibië se gemiddelde temperatuur sal sterker as wêreldtemperature styg, omdat hy reeds ’n droë klimaat het,” het hy gesê.

Hy meen dit kan tot meer droogtes, vloede en hittegolwe lei.

Volgens Remmert maak juis dié bevinding dit problematies dat Namibië se strategieë, wette en beleide nie voorsiening maak vir die toevoeging van die IPCC se nuwe bevindinge nie.

“Dalk moet ons in die lig van klimaatsverandering heroorweeg waarin ons geld belê.”

Hy sê nog ’n stap in die regte rigting sal wees om toepaslike wetgewing in werking te stel en toe te pas, terwyl die IPCC se bevindinge by planne en beleide gevoeg moet word.

“Verder moet breë en kritiese openbare dialoog gevoer word oor ontwikkelingstemas en botsende beleiddoelwitte. Ons moet voorkeur aan regeringsaktiwiteite en befondsing verleen – nie alles kan en behoort befonds te word nie.”

Remmert meen minder ad hoc-beleide moet van stapel gestuur word wat van skenkings afhanklik is en waarby gemeenskappe nie noodwendig ingekoop het nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer