Landbou as werkskepper
Landbou as werkskepper

Landbou as werkskepper

Beweging na meer geskoolde werknemers
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



In ekonomiese terme word na 'n pandemie van die omvang van Covid-19 verwys as 'n betekenisvolle eksterne skok.

Die veerkragtigheid van 'n ekonomie is die vernaamste teenvoeter vir die verliese wat as gevolg van die pandemie gely is, maar is nie voldoende nie.

Voorste ontwikkelde ekonomieë wat inperkings verslap het, skarrel terug na vlakke van verminderde en minimum mobiliteit. Te midde van hierdie verwikkelinge probeer ekonomieë om negatiewe groeikurwes te stuit en waar moont­lik, om dit te keer.

Alles in ag genome, bly die omgewing onstabiel en onvoorspelbaar en kenners maan dié ontwrigting gaan met ons wees in die afsienbare toekoms – en selfs langer.

Die vraag is hoe entrepreneurs, sakelui en uiteraard boere binne sulke onstuimigheid moet navigeer om volhoubaarheid te probeer bewerk?



ONTWRIGTING

Dis nou gemene saak dat Covid-19 veral landelike markte ontwrig het, swak infrastruktuur ontbloot het met onweerlegbare bewyse van afwesige en onvoldoende dienslewering deur die openbare sektor. Dit het ook gelei tot verhoogde transaksiekoste binne voedselwaardekettings.

Boere het fluks verligting gebring deur oortollige produksie te skenk, maar die aanvanklike geskarrel oor wie die gewer moes wees, het dit byna ontwrig en wel vertraag.

Uit die vele lesse wat geleer is, staan veral een uit, naamlik dat landbou hoofsaaklik op homself aangewese is om die nodige te doen ten opsigte van voedselsekuriteit.

Boere het die nood raakgesien en ingespring, soos tans steeds die geval is, maar sal mettertyd ook moet ophou hiermee as gevolg van die koste daaraan verbonde om honger te verlig.

Wat egter meer uitstaan, is die veranderde vraag na landbouproduksie. Groter klem het op die voedingswaarde, dringende verbeterde doeltreffendheid en groter deursigtigheid binne die voedsel waardekettings geval, wat produktiwiteit en volhoubaarheid op plaasvlak gestimuleer het.



BETER BEHANDELING

Landbou het onteenseglik bewys dat die sektor 'n staanplek het binne enige ekonomiese heropbou­program en die feit dat landbou die enigste sektor is met positiewe bydraes tot die bruto binnelandse produk (BBP), bevestig hierdie aanspraak. Ook bevestig dit dat die sektor dalk beter behandeling verdien.

Landbou wag egter nie hierop nie, maar gee die pas aan in terme van tegnologiese vernuwing.

Daar is voldoende bewys van hoe nuwe tegnologie toegepas word om aan nuwe voorkeure te voldoen. In sommige gevalle kan landbou selfs veranderings en die spoed daarvan dikteer.



WERKSKEPPING

Dié veranderde betrokkenheid van landbou is die resultaat van onder andere 'n ander vorm en vlak van inklusiwiteit van hulpbronne oor die algemeen, maar menslike hulpbronne in die besonder.

Die skep van werksgeleenthede geniet voorrang en landbou se verantwoordelikheid in hierdie verband is duidelik. Groter indiensname is 'n nasionale prioriteit, maar wat moeilik haalbaar sal wees op primêre plaasvlak.

'n Nuwe orde is aan die ontwikkel waar hoër geskoolde werknemers in diens geneem sal moet word. Dié ontwikkeling is verder ook nodig omdat landbou as werkgewer nou ná Covid-19 anders daar sal moet uitsien.

Gesofistikeerde tegnologie en die toepassing daarvan sal mededingendheid en volhoubaarheid bepaal. Tensy die werksmag op 'n plaas dié uitdagings kan oorkom, sal volhoubaarheid wegsypel.

Kortom, die nuwe normaal op plaasvlak stuur af op ander loopbaangeleenthede en hiervoor is aangepaste werkgewer-werknemer ooreenkomste nodig.

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer