Land vereer Tokio-helde
Land vereer Tokio-helde

Land vereer Tokio-helde

Diplomatieke paspoorte is gister as deel van die regering se nasionale eerbetoon aan die naellopers en hul afrigter oorhandig.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die uiters seldsame Namibiese sukses by die afgelope Olimpiese Spele en die medaljedroogte van 25 jaar wat verlede week eindelik gebreek is, is op gepaste wyse tydens die helde-verwelkoming vir die span uit Tokio 2020 gevier.

Vandat die Namibiese sportspan gistermiddag die vliegtuig verlaat en dadelik deur ’n groot groep bewonderaars en hoogwaardigheidsbekleërs ontvang is, is hulle behoorlik op die hande gedra.

Christine Mboma, silwermedaljewenner in die 200 meter vir vroue, haar oefenmaat en medefinalis in die 200 in Tokio, asook hul afrigter Henk Botha was uiteraard deurentyd die groot trekpleisters.

Ná die geharwar op die lughawe en ’n urelange parade deur die middestad en voorstede van Windhoek, is die Olimpiese groep in ’n ouditorium in Klein-Windhoek versamel vir ’n paar toesprake deur hoë figure en ’n mediageleentheid.

Mboma, Masilingi en Botha het elkeen ’n rooi diplomatieke paspoort van die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking ontvang.

Die besluit oor die toekenning van laasgenoemde spesiale eerbetoon is die prerogatief van die staatshoof, het minister Agnes Tjongarero van sport, jeug en nasionale diens op ’n mediavraag hieroor aangedui.

Soos Tjongarero in haar voorbereide toespraak ook minstens twee keer uitgewys het, is hul Olimpiese sukses bloot die beginpunt vir wat volgende vir die twee 18-jariges Mboma en Masilingi voorlê.

Die diplomatieke paspoort is ’n hulpmiddel wat internasionale reise vergemaklik, soos wat inderdaad gereeld vir die twee sensasionele naellopers en hul verwagte bywoning van vele groot byeenkomste van toepassing sal wees.

Mboma, die middelpunt van die meeste aandag ondanks haar welbekende skugterheid vir die kollig, het in haar bondige spreekbeurt haar familie en die ganse Namibië vir hul ondersteuning bedank.

“Ek is trots om Namibië te kon verteenwoordig en die silwermedalje na die Land of the Brave te kon terugbring. Ek het waardering vir my afrigter Henk se harde werk agter die skerms, asook my agent Bradley (Agnew) en elkeen van die groot maatskappye wat die Namibiese span ondersteun het.”

Minister Tjongarero het gesê dit is ’n gepaste oomblik van feesviering vir die betekenisvolle prestasie dat Namibië se atlete dit teen alle verwagtinge in al die pad na die finaal van die vroue-200 gehaal het.

“Elke Namibiër het julle in hul gebede gedra. Ons het weer gesien hoe sport die hele land kan verenig – iets wat politiek of selfs godsdiens beslis nie kan regkry nie.”

Die minister het elkeen wat agter die skerms tot die land se prestasie in Tokio bygedra het, van harte bedank, insluitend die afrigters en vrywilligers wat namiddae landswyd die Namibiese son trotseer.

“Aan Christine en Beatrice – met julle verskyning in die Olimpiese finaal as 18-jariges en jul medaljesukses sal julle waarskynlik nie weet hoeveel Namibiërs en mense wêreldwyd julle geïnspireer het nie. Julle het beide in daai resies met Olimpiese kampioene afgereken en sodoende die hoogste vlakke van wêreldatletiek betree wat Namibië laas in die era van Frank Fredericks beleef het.

“Hierdie is vir julle net die begin. Die volgende Olimpiese Spele (Parys 2024) is naby en die land sal nog meer van julle verwag.”

• Meer oor gister se geleentheid op ons sportbladsy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer