Land se room na Afrika-toetse
Land se room na Afrika-toetse

Land se room na Afrika-toetse

Padwedlope
Tielman van Lill
Tielman van Lill - 'n Groep van 13 langasems het vandeesweek per bus vanaf Windhoek na Port Elizabeth in die Oos-Kaap vertrek waar hulle Saterdag by Summer Strand aan die Konfederasie van Atletiekverenigings van Afrika (CAA) se suidelike streek halfmarathonkampioenskap (21.1 km) gaan deelneem.

Anna Amukoto, Mynhardt Kaua­nivi, Helalia Johannes, Jesaya Matheus, Rainhold Thomas, Matheus Kandhingula, Jeremia Shaliaxwe, Uveni-Nawa Kuugongelwa, Ester Haitope, Lavinia Haitope, Lena Ekandjo, Ottlie Aimwata en Johanna Muiriri sal Namibië verteenwoordig.

• Maandag vlieg die baan- en veldatlete Ernst Narib, Gilbert Hainuca, Even Tjiviju, Hardus Maritz, Roger Haitengi, Mahmad Bock, Jolene Jacobs en Tjipe Herunga na Nigerië waar hulle aan die CAA se Afrika-atletiekkampioenskap in Asaba sal deelneem.

Narib en Bock, wat gister by die Namibiese Sportkommissie was om hul nasionale kleure vir Nigerië te ontvang, is vasberade om vir die 2019 wêreldkampioenskap in Doha, Kwatar, te kwalifiseer.

Die 28-jarige Narib sê: “My oog is op die 2020 Olimpiese Spele ingestel en hoewel ek nog aan my tye in die 200 meter werk om onder 20 sekondes te hardloop, glo ek dat ek vir die wêreldkampioenskap kan kwalifiseer, asook die Olimpiese Spele. Rome is nie in een dag gebou nie en ek vat my vordering stap vir stap om te verbeter. Ek gaan in Nigerië aan die 200 m deelneem en ook die 4x400 m-aflos hardloop.”

Die 23-jarige Bock wil nie gras onder sy voete laat groei nie en is gereed om vinnig sukses op die baan te behaal.

“Ek wil so gou as moontlik verbeter en medaljes wen. Ek gaan Nigerië toe om te wen en vir die wêreldkampioenskap en die Olimpiese Spele te kwalifiseer,” het Bock entoesiasties, vertel wat aan die 400 m-naelloop en 4x400 m-aflos gaan deelneem.

• In Algiers het Namibië sy eerste junior medalje in jare op kontinentale vlak ingepalm toe die paalspringer van Grootfontein, Ludwig Huber, Dinsdag ’n brons by die Afrika Jeugspele vir onder 17’s behaal het.
Huber het op 3.30 meter geslaag teenoor die wenner Nikolai van Huyssteen van Suid-Afrika, op 4.70 meter.

Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer