Land in grondwetlike krisis, sê Job
Een van die Grondwetskrywers meen die hooggeregshof het onlangs die pot misgesit.
Denver Kisting – Een van die land se Grondwetskrywers, adv. Vekuii Rukoro, meen die land se hoogste hof, die hooggeregshof, het vroeër vandeesmaand ’n fout begaan.
Om daardie rede, het Rukoro Woensdagaand by ’n paneelbespreking in die hoofstad gesê, móét dié hof die partye weer hoor.
Hy het oënskynlik na die geskiedkundige geding verwys waartydens die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula, die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) voor die hof gedaag het om verlede jaar se presidensiële verkiesingsuitslae nietig te verklaar.
Howe, sê Vekuii, het kragtens die Grondwet ’n verantwoordelikheid om geskille opbouend te besleg.
’n Staatsgreep, daarenteen, sou ’n politieke oplossing wees, “maar nie noodwendig ’n wettige, grondwetlike oplossing nie”.
Wetmakers in die parlement kan ook met ’n wetsontwerp vorendag kom om “potensieel sensitiewe grondwetlike kwessies” die hoof te probeer bied, sê hy.
Hy het ook na die ongeëwenaarde kort tydperk van 80 dae verwys wat dit hulle aan die einde van 1989 en die begin van 1990 geneem het om die Grondwet te skryf.
Die situasie sou waarskynlik anders uitgedraai het as dit nie vir mnr. Dirk Mudge van die DTA was nie wat voorgestel het die komitee, wat uit lede van sewe verskillende politieke partye bestaan het, gebruik Swapo se beleidsdokument as werkdokument vir die Grondwet, het Rukoro gesê.
Volgens hom is die Grondwet vergelykbaar met die instrumentepaneel in ’n vliegtuig wat die loods help om nie in geboue vas te vlieg of neer te stort nie.
Mnr. Job Amupanda, die politieke wetenskap-dosent en grondaktivis, sê Namibië bevind hom midde-in ’n grondwetlike krisis.
Syns insiens is daar van skeiding van magte – soos die Grondwet vereis – weinig sprake.
Byvoorbeeld, sê hy, ’n groot aantal lede van die kabinet (die uitvoerende gesag) maak deel uit van die Nasionale Vergadering (NV), die wetmakende gesag.
Dat die kabinet ’n komitee het wat met wetgewing gemoeid is, is wat hom betref ’n skande, het Amupanda Woensdagaand gesê.
Hy het dit ook teen die regbank wat klaarblyklik nie gekritiseer mag word nie, het die aktivis gesê.
Wysigings
Van die drie vernaamste wysigings aan die Grondwet sedert 1990 is die een wat die aantal lede van die NV van 72 na 96 vermeerder het, waarskynlik die mees omstrede, het me. Ingrid Husselmann, die kinderadvokaat gesê.
Die eerste wysiging was om vir stigterpres. Sam Nujoma in staat te stel om ’n derde termyn te dien, het sy gesê.
Van die moontlike wysigings wat nodig is, sluit in om die gronde waarop daar nie teen mense gediskrimineer mag word nie, uit te brei, sê Husselmann.
Volgens haar behoort seksuele oriëntasie, ouderdom en gestremdheid gelys te word as gronde waarop diskriminasie verbode is.
Meer duidelikheid oor die aanstelling van die ombudsman en teenoor wie hy aanspreeklik is, behoort ook as ’n wysiging oorweeg te word.
In dié stadium word die ombudsman kragtens die Grondwet deur die staatshoof aangestel, maar blyk teenoor die parlement aanspreeklik te wees omdat hul jaarverslae in die NV dien, het sy gesê.
Mnr. Henry Shimutwikeni, ’n Windhoekse prokureur, het gesê Namibiërs moet besef die Grondwet is nie net ’n dokument vir regsgeleerdes nie. Dit moet vir almal toeganklik wees en inwoners se daaglikse lewe rig.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie