Land hou asem op
Land hou asem op

Land hou asem op

Namibiërs wag in spanning om te hoor oor die weg vorentoe aangesien die Covid-19-noodtoestand vandag ten einde loop.
Denver Kisting
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob spreek na verwagting vanmiddag die land toe oor die regering se voortgesette hantering van die Covid-19-pandemie.

Die ses maande lange noodtoestand wat Geingob op 17 Maart vanjaar afgekondig het – dae ná die land se indeksgevalle – loop vandag ten einde.

Onder die noodtoestand het die regering verskeie regulasies afgekondig om mense se gedrag te reguleer in 'n poging om die verdere verspreiding van Covid-19 te onderdruk, beheer en verhoed.

Die regering het uit alle oorde in die spervuur beland oor wat sommige as drakoniese maat­reëls beskou.

Teen alle verwagting in, verneem Republikein 'n moont­like nuwe noodtoestand is opnuut op die tafel.

Sou pres. Geingob dít vanmiddag bekend maak, sal dit vir sewe dae geld waarná 'n tweederdemeerderheid van die Nasionale Vergadering (NV) ten gunste van 'n verlenging moet stem.

Hoewel die regerende party nie meer 'n tweederdemeerderheid in die NV het nie, benodig Swapo net nog een LP se stem om 'n nuwe noodtoestand te verleng.

Dít is moontlik mits alle Swapo-LP's ten gunste van 'n verlengde noodtoestand stem.

Daar word aanvaar dr. Esther Muinjangue, die leier van die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, sal moontlik uit opposisiegeledere die verlenging ondersteun.

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, het verlede week gesê die amptelike opposisieparty sal nie 'n verlenging van die noodtoestand ondersteun nie.

Me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, die eerste minister, wou gister by navraag nie die aap uit die mou laat nie.

Sy sê Dinsdag se kabinetsvergadering was net 'n beraadslagende een “wat nie besluitnemende magte het nie. Die aankondiging aan die publiek oor die weg ná 17 September sal deur die gewone kanale gemaak word.”



MAATREëLS TOT VANDAG

Die reisverbod wat tans vir in en uit Windhoek, Okahandja en Rehoboth geld, is sedert Sondag tot vandag in plek.

Die aandklokreël skop sedert Sondag om 22:00 af en is tot 05:00 van krag.

Restaurante en kafees kon sedert Sondag heropen vir etes op hul perseel waartydens alkohol ook verkoop en geniet mag word.

In die vorige regime is hulle net toegelaat om wegneemetes te verkoop.

Wat sjebeens betref, mag dié instellings steeds net drank verkoop vir doeleindes om tuis geniet te word.

Nagklubs en dobbelhuise bly steeds toe.

Die aantal mense per sosiale saamtrek, soos troues, begrafnisse en kerkdienste, is van Sondag af tot 50 verhoog – 40 meer as die vorige perk van tien mense.

Kontaksport mag steeds nie hervat word nie.

Enigiemand wat die regulasies oortree, word deur 'n boete van N$2 000 en/of gevangenisstraf van ses maande in die gesig gestaar.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer