Lamprecht breek niks in volspoed botsing

Fietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Windhoekse fietsryer Jaco Lamprecht erken dat hy baie het om voor dankbaar te wees in sy verwagting om ten volle te herstel van die beserings wat hy voor die naweek in ’n botsing met ’n taxi op die westelike verbypad opgedoen het.

As hoof uitvoerende beampte van Hollard Namibia is Lamprecht ’n belangrike figuur in een van die mees prominente borgmaatskappye vir plaaslike fietsry.

Hy is self ook ’n baie aktiewe ryer wat op elite vlak meeding as lid van die Hollard-span, een van die topspanne in die Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks. Op die padfiets is hy die heersende nasionale kampioen vir veteraanmans en hy was ook bestem om in Maart vanjaar saam met die nuweling André Vermeulen aan sy derde Absa Cape Epic bergfietstoer te gaan deelneem, wat egter op die vooraand weens Covid-19 gekanselleer is.

Soos hy in sy eie woorde vertel, het die botsing binne ’n oogwink gebeur, met so ’n impak dat sy splinternuwe padfiets middeldeur gebreek het.

“Ons het Donderdagmiddag ná werk intervalle op die verbypad gedoen. Ons ry spesifiek die stiller gedeelte van die Katutura-brug af Okahandja se kant toe; daar is veel minder verkeer en daar is dubbele bane vir voertuie en minder karre binne die geel streep, waar ons fietsryers probeer ry.

“Ek was aan die einde van my interval wat net onder daardie bruggie voor die Katutura-brug eindig. Ek het ’n paar sekondes tevore opgekyk en niks voor my gesien nie. Ek het my kop weer laat sak, soos wat ’n mens maar doen as jy in jou ‘drops’ sit en ’n groot poging ingesit om my laaste interval van die dag sterk klaar te maak.

“Wat ek nie gesien het nie, was dat daar verkeerspolisie in die oop middelspasie van die verbypad tussen die twee groot dubbelbane, reg onder die brug was.

“Hulle het ’n taxibestuurder afgetrek, wat toe sy taxi binne die geel streep reg voor my gaan stilhou het. Ek het dit nie gesien nie en is volspoed in die taxi vas.

“Ek het definitief ook skuld; ek moes gekyk het, en die taxi het skuld, hy kan nie net daar loop dood stop nie, al het die verkeerspolisie hom afgetrek. Daar was genoeg ruimte op die grond langs die verbypad vir hom om te parkeer.

“Maak nou nie saak nie, die uiteinde is dat ek volspoed in hom vas is. Splinternuwe drie weke oue fiets het middeldeur gebreek. Dit is seker die minste van die probleme; aardse goed wat weer vervang kan word.

“Sover dit beserings aangaan, was ek baie gelukkig. Dit was ’n geweldige slag en ek het baie hard geval, maar gelukkig was dit reg voor die verkeerspolisie, wat onmiddellik die verbypad kon afsper en onmiddellik ’n ambulans kon ontbied, wat binne minute daar was. Die hulp was vinnig en professioneel en effektief!

“Aan die einde van die dag ná die stof gaan lê het, het ek niks gebreek nie. Ek is blou van kop tot tone met baie vel af en stukkende plekke, maar niks langtermyn skade nie.

“Die senuwees in my nek knyp nog ’n bietjie vas wat die gevoel in my linkerarm en -hand beïnvloed, maar ook dit behoort weg te gaan as die swelling gaan sak.

“So ek was baie, baie gelukkig. Ander ouens wat hierdie oorkom, kry baie erger seer en breek klomp bene...”

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer