Lag-lag oor die Atlantiese Oseaan

Augetto Graig
Augetto Graig - Twee mans van Letland het verlede week in Windhoek aangekom op pad na Lüderitz waar hulle volgende naweek in ’n roeiboot gaan klim om oor die Atlantiese Oseaan na Rio de Janeiro aan die kus van Brasilië te roei waar hulle betyds vir die Olimpiese Spele wil aankom.
Karlis Bardelis en Gints Barrowskis is van plan om tydens die Kreeffees aan die einde van April op Lüderitz hul vaart van 90 dae tot by die Copacabana-strand aan te pak.
Terwyl Gints Barrowskis soms vryskutskrywer, soms sakekonsultant is, beskryf Karlis Bardelis homself as ’n professionele avonturier, wat tussen projekte soms platejoggie speel of as ’n reksprong-instrukteur werk.
Die twee het sewe jaar gelede ontmoet toe hulle toevallig vir dieselfde kliënt gewerk het en hul vriendskap is nou al goed gevestig. Karlis het die meeste ervaring met dié tipe uitdagings en hou rekord op sy blog boredofborders.com.
“In Letland is dit maklik. Ek het voorheen ’n avontuur met my vriende aangepak waartydens ons 2 800 km te fiets vanaf Letland tot by Sochi (Rusland) vir die Winter Olimpiese Spele afgelê het. Ons het langs die pad kinders se tekeninge afgelewer. Ons was koeriers van hoop en het geld vir ’n kinderhospitaal ingesamel. Ek het toe al besluit volgende keer is dit Rio toe vir die volgende Spele,” sê hy.
“Ons het dit goed gedink om die see oor te steek,” voeg Gints by.

Boodskap vir jongmense
Dié keer wil hulle die jongspan meer betrek en hoop kinders volg hul avontuur aanlyn, as motivering om self meer buite te speel. Die roeipaar sal vóór hul vertrek skole op Lüderitz besoek om, in Gints se woorde, “’n voorbeeld van ’n lewe van opwinding op te dis”.
Die boodskap is een van vryheid en dit is Gints wat dit die mooiste stel: “Elke dag kan elke mens kies om te doen waarvan hy of sy hou, of om te doen wat gedoen moet word.” Die keuse wat dié twee maak, is om te doen waarvoor hul lief is, naamlik ware vryheid te beleef. “Vir my is die seetog ’n kans om myself te bevry; van die nuus, van die internet, selfone en die hele beskawing,” sê hy.
Dit is toe wat dit aan die lig kom dat hy ’n lag-joga-entoesias en instrukteur, vandaar sy siening: “Dis die belangrikheid van pret. Wanneer jy die lewe geniet, verminder jy jou vrese - selfs die vrees vir die dood. Skielik geniet mens die lewe so veel meer, soveel dieper, soveel omvangryker. Die lewe is soos ’n droom, en as die een klaar is, begin ’n ander,” sê Gints. “Dit is soos ’n skoenlapper wat in sy kokon lê. As die kokon oopbreek, klim die skoenlapper uit en begin vlieg. Dit is vir hom ’n heel nuwe realiteit. Die gemeenskap sien die stukkende kokon en treur daaroor, maar hul siening is verkeerd. Wees liewer bly vir die skoenlapper. Met so ’n gesindheid is die lewe veel makliker en veel meer pret,” sê hy.

Weliswaar geen grap
Nie dat die twee die epiese reis as ’n grap beskou nie. Hulle het maritieme opleiding in Letland ondergaan en spesiale kursusse wat spesifiek verband hou met oorlewing op see, asook kommunikasie ter see, seevaartroetes en navigasie op die oop waters ondergaan.
Erden Eruc, wat deur baie mense as die mees ervare seeroeier ter wêreld beskou word, het hulle ook persoonlik opgelei.
Hul roeiboot wat na Lüderitz gestuur is, het ’n geskiedenis omdat dit reeds drie keer gebruik is om die Atlantiese Oseaan oor te steek. Die 7 m lange tuig is 1,95 m wyd en omtrent 1,4 m hoog. Die boot het geen kiel nie, maar bly regop danksy ballasmandjies wat ook drinkwater sal bevat. Dit weeg 440 kg en met alle kos en toerusting aan boord, kan die gewig tot 1,3 ton styg. Die boot beskik onder meer oor ’n apparaat wat seewater ontsout deur middel van tegniese toerusting wat krag van sonpanele ontvang en dus vars water produseer.
Die twee kajuite sluit in ’n klein rusplek en twee sitplekke waar die roeiers elke twee uur beurte sal neem met die 3 m lang roeispane. Hulle is van plan om feitlik 24 uur per dag te roei.
Die boot moet nog ’n naam kry en sal na die grootste borg vernoem word. Tot dusver het meer as 30 maatskappye borgskappe gegee wat toerusting, kos en geld insluit terwyl meer as 100 indivuele borgskappe ook ontvang is.
Net die vervoer van die boot tot op Lüderitz kos €5 500 (omtrent N$90 400). Nóg ’n groot koste is die satellietfoon waarmee Karlis elke week met die land kontak sal maak, en die toestel wat ’n noodsein kan stuur waarmee hulle opgespoor kan word.
Voorsiening is ook gemaak vir ’n reddingsboot en ’n nood-grypsak as dinge begin baie rof raak.
Alhoewel hulle bewus is van haaie is dit nie ’n groot bekommernis nie. Nogtans sal konstante waaksaamheid ’n vereiste wees en albei moet te alle tye aan die boot vasgemaak wees.
Die twee roeiers wil veral die Namibiese Olimpiese komitee dank vir die hulp tot dusver. “Joan Smit en Annatjie Wimmert is nou al soos ons eie beskermengele,” sê Karlis.
Gints noem ook dat Lüderitz by ver die beste plek van waar hulle met hul vaart kan begin vanweë die seewinde, seestrome en die rustige hawe wat dinge met hul klein boot veel makliker sal maak.
“Lüderitz is ’n uitstekende plek vir alle avontuursport-liefhebbers en ons is trots daaop om hierdie pragtige dorpie te ondersteun,” sê Gints.

Kassie

Riaan en Vasti het dit ook gedoen

Die Suid-Afrikaanse avonturier Riaan Manser en sy vriendin Vasti Geldenhuys, het in 2014 in ’n kano van Marokko na New York geroei.
Die twee het op 30 Desember 2013 uit Agadir in Marokko vertrek op ’n vaart van 10 765 km oor die Atlantiese Oseaan en toe op langs die Amerikaanse ooskus. Hulle het New York op 20 Junie bereik.
Die paartjie het op die laaste been van hul epiese vaart heelwat struikelblokke beleef, veral omdat die seestrome langs die ooskus van die VSA geweldig sterk is.
As hulle te ver van die kus sou roei, was die strome gevaarlik sterk. As hulle te na aan die kus sou roei, het hulle die gevaar geloop om op rotse te beland.
Manser en Geldenhuys het ook met ’n penarie gesit ná hul toestel wat seewater ontsout, gebreek het. Hulle was lank sonder water voordat ’n massiewe vragskip, wat hulle via hul radio gekontak het, vir hulle ’n houer met 60 liter drinkwater gegooi het.
Toe hulle ná 75 dae op see vir die eerste keer hul voete op vaste grond neersit, het die twee "soos dronk mense" rondgeval.
Die Atlantiese Oseaan is nie ’n dam tussen Amerika en Engeland nie, soos baie mense na dié oseaan verwys nie, het Manser later in ’n onderhoud geskerts.
“Ons kano is heeltemal omgedop deur ’n 7 m hoë brander. Ons is uit die kano gegooi. Dit was baie erg . . . ons het nie geweet wat aangaan nie.”
Manser en Geldenhuys, wat vóór hul vaart reeds vir 14 jaar ’n paartjie was, se verhouding is ook met dié reis getoets.
“Daar was amper vier dae wat ons glad nie met mekaar gepraat het nie. Ons het oor die kleinste goedjies baklei. Ons was so gatvol vir mekaar en dis baie moeilik as jy dan twee meter van mekaar op ’n kano in die middel van die Atlantiese Oseaan sit,” het hy gesê.
Dié uitdaging het hul verhouding egter goed gedoen, het Geldenhuys gesê. “Ek is nou liewer vir hom as ooit.”
Sy het met dié vaart die eerste vrou van Afrika geword wat daarin geslaag het om oor die Atlantiese Oseaan te roei.

KASSIE:

Geskiedenis herhaal homself

Kaptein Amyr Khan Klink, ’n Brasiliaan, het Lüderitz in Junie 1984 in ’n spesiaal ontwerpte reddingsboot verlaat om manalleen oor die Atlantiese Oseaan na Brasilië te roei. Die vaart was deel van ’n navorsingsprojek oor oorlewing en hy het ’n honderd dae later by Sao Salvador in Brasilië aan wal gestap.

*Saamgestel uit berigte op netwerk24.com

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer