Laer prys vir ystererts voorspel
Laer prys vir ystererts voorspel

Laer prys vir ystererts voorspel

Dit gaan broekskeur gaan vir ystererts om in 2017 dieselfde as in 2016 te presteer.
Estelle de Bruyn
Nadat die prys van ystererts in 2016 die hoogte in geskiet het en baie beleggers onkant betrap is, lyk dit of dinge dié jaar moeiliker kan gaan met aanduidings van aanbod wat vraag kan oorskry.

Vale SA, die Brasiliaanse mynbougroep en grootste produsent van ystererts ter wêreld beplan om vandeesmaand die eerste besendings ystererts van sy SD11-myn in Brasilië (met die vermoë om 90 miljoen ton per jaar te lewer) te begin verskeep, terwyl die opgehoopte voorraad wat in Chinese hawens lê, rekordvlakke bereik.

Tan Hui Heng, 'n ontleder by Marex Spectron in Singapoer, meen aanbod gaan sterk bly met Vale se bykomende produksie. Dít gekoppel met tanende vraag, kan ystererts “seermaak” sê hy.

Sy vooruitsig stem ooreen met dié van banke soos Morgan Stanley, wat ook voorspel die prys gaan daal.

Die prys van ystererts het in 2016 teen verwagting in met 81% gestyg – gestimuleer deur China se vraag na staal.

Saam met spekulasie en rekordhoë steenkoolpryse het dit gehelp om die prys van ystererts te laat styg.

Clarksons Platou Securities, 'n beleggingsbank wat in Oslo en New York bedrywig is, meen egter die groter vraag en beter beheer deur groot maatskappye soos Rio Tinto en Vale, sal in die nuwe jaar voortduur.

Jeremy Sussman, 'n ontleder by Clarksons, sê daar gaan 'n groter aanbod van ystererts wees vanjaar. Die huidige prys sal dit nie kan volhou nie en hy meen die huidige prys van US$80 per ton gaan daal.

“Ons verwag dit gaan eerder 'n geleidelike as skielike daling wees.”

Erts met 'n inhoud van 62% in Qingdao, China, het einde 2016 teen US$78,87 per ton verhandel. Dit is net laer as die hoogtepunt van die afgelope twee jaar van US$83,58, wat op 12 Desember bereik is, berig Metal Bulletin.

Die prysstyging het mynmaatskappye se aandeelpryse die hoogte in laat skiet met Rio Tinto wat 34% hoër was in Sydney en Vale se aandeleprys wat meer as verdubbel het.

Die voorraad in China, die wêreld se grootste koper, het met 22% in 2016 toegeneem wat die grootste styging is sedert 2011.

In die laaste week van 2016 het die voorraad in China met nog 2,7% tot 113,95 miljoen ton gestyg, berig Shanghai Steelhome Information Technology. Dit is die meeste tot nou toe.

“As die geskiedenis 'n voorbeeld is, is rekordvlakke in Chinese hawens 'n gevaarlike teken,” sê Gordon Johnson, 'n ontleder by Axiom Capital Management.

Axiom voorspel die prys van ystererts kan tot US$61 per ton daal sou voorraad net die helfte minder wees as die voorraadafname met die vorige laagtepunt.

Die prys van ystererts behoort tussen US$70 en US$80 per ton vroeg in 2017 te bly waarna dit geleidelik tot tussen US$50 en US$60 per ton teen die middel van die jaar gaan daal, voorspel Gavin Wendt, senior hulpbronontleder by MineLife.

 - Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer