Lae houe kan Vicente duur kos
Lae houe kan Vicente duur kos

Lae houe kan Vicente duur kos

Boks
Die oorvloed lae houe wat ’n bokser van die Dominikaanse Republiek verlede week in Las Vegas geslaan het, kan nog ’n ruk lank by hom spook.
Yenifel Vicente is in die tiende ronde deur die skeidsregter gediskwalifiseer nadat hy Jessie Magdaleno van Amerika vir die soveelste keer tussen die bene gepot het.
Robert Byrd, skeidsregter, het teen daardie tyd reeds drie punte van Vicente se telkaart laat aftrek vir sy lae houe.
Dit was in die hoofgeveg van ’n toernooi wat Donderdag by The Bubble in die MGM Grand Casino gehou is.
Magdaleno het Vicente meestal ’n boksles gegee. Dis nou wanneer hy nie self op sy knieë was ná nog ’n lae hou nie.
“Ek dink hy moet gestraf word vir wat hy gedoen het. Hulle moet hom dalk vir die res van die jaar skors of ’n deel van sy geld terug vat,” het Magdaleno aan Boxing Scene gesê.
Bob Bennett, kommissaris van die Nevada-sportkommissie, sê hy gaan die saak verder ondersoek.
• Die swaargewig Mariusz Wach van Pole sal intussen dalk ’n operasie moet ondergaan nadat hy Vrydag sy linkerhand in die sewende ronde van sy geveg teen Kevin Johnson van Amerika in Krakow beseer het.
Wach het met punte gewen, maar het nie juis sy reputasie ’n hupstoot gegee nie.
Hy het volgens Fight News gesukkel om die botoon teen Johnson, wat die laaste paar jaar meer verloor as wen, te voer. ­– Sportredaksie

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer