Laat wiel met TrenTyre

Met drie takke in die Suide lewer Trentyre nie net ’n diens aan die publiek nie, maar ook aan twee van Namibië se grootste sinkmyne. TrenTyre se takke in die Suide is op Keetmanshoop, Rosh Pinah en Lüderitz geleë, met Eugene Walters aan stuur van sake as die streekbestuurder. Sedert die tagtigerjare het TrenTyre reeds vanuit ’n depot op Keetmanshoop sy dienste aan die Rosh Pinah Zinc Corporation begin lewer en met die opening van ’n TrenTyre-tak op Rosh Pinah, is die werk vir hulle voortgesit.
Met Skorpion Zinc wat hul deure in 2001 op Rosh Pinah geopen het, was TrenTyre se tak op die dorp reeds ongeveer ’n jaar oud en reg om ook hul dienste aan die myn te verskaf. In die begin was die tak bestuur uit twee vraghouers wat vandag deel is van die Four Seasons Lodge. TrenTyre Rosh Pinah het 25 personeellede onder leiding van Jors van Zyl.
Die onderneming se dienste sluit die verkoop van buitebande en brandstof in, met ’n 24-uur diens wat beskikbaar is. Keetmanshoop se tak is die oudste in die Suide en het reeds in 1987 geopen.
Jacobus Blaauw staan aan stuur van sake met ’n personeelkorps van 26 lede. Beide Keetmanshoop en Rosh Pinah se takke is gerieflik by ’n petroldiensstasie geleë.
Lüderitz se tak is die jongste in die TrenTyre-stal en het in 2000 sy deure geopen. Die tak en vier personeellede word deur Ricardo Khubas bestuur.

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer