Laat kinders tog net kind wees
Laat kinders tog net kind wees

Laat kinders tog net kind wees

[email protected]
Sanet de Waal
Iréne-Mari van der Walt

As gevolg van verskeie redes voel ek op die ouderdom van 21 dat ek nooit werklik kind was nie.

Dit het gekom van familie wat met alle mag geglo het ek is spesiaal tot onderwysers wat geglo het ek is ’n aangename en volwasse jong dame. Daar was net nooit regtig plek om jonk, onverskillig en net werklik ’n kind te wees nie.

Ek kuier onlangs saam met ’n goeie vriendin en sy vra my vir my mening. Ek sê toe vir haar ek dink sy verwag baie van haar oudste seun. Hy is 12 jaar oud en op daardie ouderdom begin hy kyk hoe ver hy buite die lyne kan gaan en hy leer ken die wêreld wat hy eendag sonder sy ma se beskerming moet betree.

Elke fase van ons ontwikkeling is belangrik en om een of twee oor te slaan, kry ons wel vinniger by die eindpunt, maar in die lange duur ondermyn ons onsself.

Toe Simone Biles uit die onlangse Olimpiese Spele onttrek het, het ons verskeie stories gehoor van gimnaste wat beseer is tydens hul roetine, maar deur ’n afrigter aangemoedig is om klaar te maak. Baie van hulle is permanent beseer en sou nooit weer aan hul sport kon deelneem nie. Was hul medaljes die pyn en lyding werd?

As ons van kinders verwag om soos volwassenes op te tree wanneer hulle soos daardie gimnaste met paniek in hul oë by ’n volwassene op die kantlyn om hulp smeek, gaan ons ongelukkig juis dit kry wat ons wil hê – volwassenes.

Kinders wat te veel wysheid saam met hulle dra. ’n Jeug wat geskend is deur die las van ’n verantwoordelikheidsin wat nog altyd hulle enigste talent was.

As jy eers volgende maand by die eindstreep moet aankom en dan jaag om binne ’n week daar te kom, gaan jy doodmoeg wees. Jy gaan nie die krag hê om vir ’n volgende mylpaal te mik nie. Daar gaan ook van jou verwag word om met dié mee te ding wat jou gewen het.

Hoekom sit ons kinders in hierdie posisie? Hoekom verwag ons van kinders om alewig groter en beter as die volgende een te wees?

Ek kan nie al een wees wat al trane gestort het oor die Picasso’s van die wêreld nie. Die “tortured geniuses” soos die Engelse sou sê. Picasso was goed met dit wat hy gedoen het, maar op die ou einde lê hy ook maar in sy graf na ’n onstuimige lewe. Picasso kon nooit sy werk ten volle geniet nie, want dit was nooit goed genoeg nie.

Hoekom is ons besig om kinders as martelaars van hul eie gedagtes te kweek? Laat kinders teen hul eie pas ontwikkel, want as daar een ding is wat ons uit die Picasso’s in ons geskiedenis leer, is dat die idee van sukses die grootste slawedrywer van almal is.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer