Kyk waar trek Musk se bloedrooi Tesla tans
Kyk waar trek Musk se bloedrooi Tesla tans

Kyk waar trek Musk se bloedrooi Tesla tans

Diegene wat belangstel om die rit van Starman in Elon Musk se Tesla in die ruimte te volg, kan dit nou met behulp van 'n webwerf doen.
Die Suid-Afrikaans gebore entrepreneur Elon Musk het die afgelope tyd rede om te glimlag.

Nie net was die lansering van sy Falcon Heavy-vuurpyl ’n reusesukses nie, sy ongewone besluit om sy eie Tesla Roadster die ruimte in te stuur met ’n pop agter die stuurwiel, het die wêreld se verbeelding aangegryp.

Waar “ry” Starman in sy bloedrooi Tesla tans? Hoe ver het hy al in sy elliptiese wentelbaan om die son gevorder?

Nadat die Tesla se aanboordkameras se batterye pap geraak het, was dit moeilik vir Jan Alleman om te skat hoe ver die motor al van die aarde af dobber.

Maar danksy Ben Pearson, ’n aanhanger van SpaceX, kan almal nou sien waar Starman hom tans bevind – meer as 3,7 miljoen kilometer vanaf die aarde om presies te wees.

Pearson is ’n elektriese ingenieur wat in die ruimtevaartbedryf werksaam is. Daarom is dit heel gepas dat hy die skepper van die webwerf Whereisroadster.com is.

Dié blad gebruik datapunte verskaf deur die JPL Horizons-stelsels om die Tesla se ligging te bepaal. JPL is die straalaandrywingslaboratorium of Jet Propulsion Laboratory, ’n navorsingsentrum in die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa. Danksy hul waarneming van die buitenste ruim kan Pearson data gebruik om Starman in die ruimte op te spoor en te voorspel waarheen hy op pad is.

Teen Maandagmiddag het Starman teen ’n spoed van 10 833 km/h weg van die aarde in die rigting van Mars beweeg. Starman moet nog meer as 220 miljoen kilometer reis voordat hy die rooi planeet bereik.

Ook Musk is klaarblyklik opgewonde om te weet waar sy motor is. “Ek is seker ek het dit hier iewers geparkeer,” het die entrepreneur spottenderwys getwiet met ’n skakel na Pearson se webwerf.

Die Falcon Heavy is op 6 Februarie vanaf die Kennedy-ruimtesentrum in die Amerikaanse deelstaat Florida gelanseer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer