KYK: Tiener laat Aussies van Superrugby vergeet
KYK: Tiener laat Aussies van Superrugby vergeet

KYK: Tiener laat Aussies van Superrugby vergeet

Rugby
Australiese rugbyondersteuners het hierdie week omtrent vergeet dat daar hierdie week twee wedstryde in hul plaaslike Super-reeks gespeel word, só het dit oor die tienersensasie Joseph Suaalii gegons.
Suaalii is ’n 16-jarige speler op wie die vyftienman-kode sowel as rugbyliga jag maak.
Hy het reeds op vleuel vir Australië se o.18-skolespan uitgedraf en daar is ’n kans dat hy ná 1 Augustus, wanneer hy 17 word, by een van die Superspanne betrek gaan word.
Daar is selfs gerugte dat hy geoormerk is om volgende jaar vir die Aussies se sewesspan in die Olimpiese Spele uit te draf.
Rugby Australië het hierdie week gesê ’n ander gerug – dat hy Suaalii vir A$3 miljoen (sowat R35 miljoen) gekontrakteer het – is loutere onsin.
Volgens berigte het dié jongeling egter reeds ’n kontrak met die rugbyligaspan South Sydney gesluit en sal meer besonderhede volgende maand bekend gemaak word.
Michael Hooper, die Wallabies se kaptein, het gesê hy sou dit “gehaat” het om as 16-jarige al so in die kollig te wees as wat Suaalii is.
Die Waratahs pak die Rebels intussen Vrydag in Sydney en die wedstryd word van 11:05 op SuperSport 1 uitgesaai.
Saterdag speel die Western Force en die Brumbies in nog ’n wedstryd in die reeks teen mekaar.
– Reuters, smh.com.au, Fox Sports, Netwerk24

Hier is hoogtepunte van die tienersensasie Joseph Suaalii in aksie:
https://youtu.be/C4BaTdnjTZQ

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer