Kyk op na die sterre en vind perspektief
Ek het goeie nuus. My en jou probleme in die lewe is nie so groot as wat ons dink nie. Boonop is dit kortstondig. Ons kort eintlik net ‘n bietjie perspektief.
Dit begin dat ons in verwondering oor die skepping móét staan. Ons menseverstande kan nie die onmeetbare grootheid asook die mikroskopiese kleinhede daarvan begryp nie. Hierdie is maar net een faset van al die wonders van die skepping.
Dink hieraan: Sterrekundiges meen die heelal is sowat 13,8 miljard jaar oud. Die afstand na die einde van die sigbare heelal is sowat 46 miljard ligjare. Dit is so groot dat lig, wat teen ‘n spoed van sowat 300 000 km per sekonde beweeg, dit nog nie eers in 14 miljard jaar kon deurkruis nie.
Die heelal is waarskynlik nog baie groter, maar die res van die heelal is nie vir ons “sigbaar” nie.
Wat lê aan die einde van die heelal, is daar ‘n einde en wat is dan anderkant die einde?
Onbegryplik, maar daar is meer.
Ruimtewetenskaplikes het al bykans moed opgegee om sterrestelsels, soos ons eie Melkweg, te probeer tel. Die Hubble-teleskoop het na raming reeds sowat 100 miljard van hulle ontdek en na verwagting wag minstens nog 100 miljard om ontdek te word.
Dit, terwyl ons satelliete nog nie eens werklik vordering tot buite ons eie sonnestelsel – ‘n kolletjie in ons Melkweg-stelsel – gemaak het nie. Al het wetenskaplikes al ongekende suksesse in ruimtewetenskap behaal, weet ons ook eintlik min van ons eie sterrestelsel wat sowat 100 000 ligjare in deursnee is.
Wat nog te sê van byvoorbeeld die M87-sterrestelsel, wat na raming sowat 980 000 ligjare in deursnee is of die reuse Hercules A-sterrestelsel, wat 1,5 miljoen ligjare breed is? Dan wag daar nog 100 miljard sterrestelsels om te verken.
Ons hele sonnestelsel – die son met al sy planete – is ‘n kolletjie in die Melkweg. Die Melkweg is ‘n kolletjie in die sigbare heelal. Onnoemenswaardig. Ons is “niks”, so klein en kortstondig dat ons bykans nie bestaan nie. Is dit dan nie dalk óns wat die mikroskopiese lewe is nie?
Hoekom sal ‘n Skepper van iets so onbegryplik groot, hom steur aan my en jou?
Laat my dink aan die Bybelse woorde: “Wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind, dat U hom besoek? Weinig minder as engele, met heerlikheid en eer gekroon . . .”
Dit plaas perspektief op jou probleme, bekommernisse en hoe groot ons ego’s behoort te wees.
Plaas dié grootheid teenoor die aarde se mikroskopiese lewende wesentjies soos byvoorbeeld eensellige organismes, bakterieë, fungi of virusse – van die kleinste bakterieë is tussen 0,2 tot 50 mikrometer groot. ‘n Mikrometer is ‘n miljoenste van ‘n meter.
Laat dink dit my terug aan my grootwordjare se Vrydagaande, wanneer ons gekyk het wie die meeste satelliete in een aand kon raaksien. Jou oë op die kristalhelder naghemel, met die ou radio'tjie eenkant wat krakerig goue ou treffers uitsaai – enige iets van Elvis se Suspicious minds,, dalk Albert Hammond se The Peacemaker. Ballyhoo se Man On the Moon het jou laat wonder: Is ons werklik alleen – en hoe alleen moet ons dan nie wees in hierdie groot plek nie?
Soms is dit moeilik as ons al die dinge in oënskou neem, om werklik ons grootte en kleinheid, ons (on)belangrikheid en die bedoeling agter dit alles te verstaan.
Een ding is egter duidelik – dit bied perspektief en dankbaarheid dat daar wel in ons kleinheid na ons omgesien word – soos 'n kosbare kleinood. As jy voel die lewe kry jou onder, onthou hoe kortstondig probleme werklik is. Kyk op na die sterre en vind weer perspektief.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie