Kwotas gaan huursoldate skep
Krieket
Heinz Schenk
’n Groep nomadiese “huursoldate” eerder as nuwe Kevin Pietersens is plaaslike krieket se voorland indien Krieket Suid-Afrika (KSA) nie sy transformasieplan op ’n gebalanseerde wyse gaan uitvoer nie.
Verskeie belanghebbendes glo juis Suid-Afrikaanse krieket sal eerder sy bekwame franchisespelers aan lonende T20-toernooie in die buiteland afstaan as wat hulle vir ander lande sal kwalifiseer.
Streng kwotavereistes is reeds sedert 2014-’15 ’n werklikheid op plaaslike vlak, maar KSA het die afgelope naweek sy “verbintenis tot transformasie” verder verstewig deur amptelike teikens vir die nasionale span ook te stel.
Die Proteas moet voortaan ses gekleurde spelers – van wie twee etnies swart – in elke elftal kies.
“Dit is reeds moeilik vir wit spelers om gereeld speelkans by ’n franchise te kry. Nou sal hulle ook sukkel om internasionale krieket te speel tensy hulle hulself werklik uitsonder met hul vertonings,” sê ’n vooraanstaande agent, wat naamloos wou bly.
“Moenie dink daardie ‘slagoffers’ gaan nou skielik vir Engeland probeer speel nie. Daarvoor het die Engelse krieketraad die vereistes veel strenger gemaak. Dit is makliker om te probeer om byvoorbeeld ’n kontrak in die Indiese Premierliga (IPL) los te slaan.”
Hy sê spelers sal dus konsentreer om in die plaaslike T20-reeks goed te vertoon om sodoende buitelandse talentjagters se oë te tref – veral indien KSA se planne suksesvol is om dié reeks uit te brei.
“Maar dit is makliker gesê as gedaan. Die buitelandse mark vir krieketspelers is aansienlik kleiner as in sokker of rugby.”
’n Eweknie, wat ook naamloos wil bly om nie sy kliënte te benadeel nie, meen dit is “sinloos om teen die stelsel te veg”.
“KSA se raad doen net wat hy wil. Daar word nooit verduidelik wat die grondslag vir hul besluite is nie en watter navorsing gebruik word nie,” sê hy.
“Natuurlik hoop ek KSA kan ’n stewige basis op plaaslike vlak skep sodat die Proteas ’n mededingende en verteenwoordigende span in die veld kan stuur, maar ek twyfel. Die stelsel werk nie en dit sal nie méér doeltreffend word deur bloot teikens te verhoog nie.”
Tony Irish, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca), bevraagteken ook KSA se metodologie.
“Ons het reeds by die beheerliggaam navraag oor sy navorsing gedoen,” sê hy.
“Dit sal baie interessant wees om te weet hoe die streng kwotavereistes op plaaslike vlak nou ook op die nasionale span toegepas gaan word.”
Irish erken wel KSA se maatstaf om transformasie van die Proteas te beoordeel, “is sinvol”.
“Dit is beter om ’n gemiddelde oor die seisoen uit te werk. Dit maak voorsiening vir wanneer daar dalk nie twee swart spelers beskikbaar is om te speel nie. Só ’n maatstaf is meer volhoubaar.”
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie