Kwagga pure resiesperd!
Kwagga pure resiesperd!

Kwagga pure resiesperd!

Rugby
Hendrik Cronjé

Geen ego’s en goeie diepte. Dié twee eienskappe van sy span, sê Johan Ackermann, is die vernaamste faktore waarom die Leeus onoorwonne uit Australië na Suid-Afrika terugkeer.

Ná die Leeus se suksesvolle toer met ’n sege Vrydag van 13-6 oor die Brumbies in Canberra ná oorwinnings vroeër oor die Rebels (47-10) en Western Force (24-15), het ’n lang en moeilike reis oor Melbourne en Perth terug na Johannesburg op die Leeus gewag.

Ackermann sê al het die span eintlik nog niks bereik nie, is hy veral verheug met hoe die terugslae van talle beseerde spelers soos Ruan Combrinck, Rohan Janse van Rensburg, Howard Mnisi, Jaco Kriel, Warwick Tecklenburg (uitgetree), Dylan Smith en Julian Redelinghuys oorkom is deur spelers wat na vore getree het as waardige plaasvervangers.

Onder hulle tel Kwagga Smith, Ruan Ackermann, Cyle Brink en Harold Vorster. Smith, tot onlangs toe nog een van die Blitsbokke se sterre, se langafstanddrie in Canberra word juis deur Ackermann as die keerpunt in die wedstryd teen die Brumbies beskou.

“Dit was ’n briljante individuele drie. Hy het die hele wedstryd hard in die losstryd geveg. Krediet aan die span wat daardie bal omgekeer het. Dít was waarskynlik die Brumbies se grootste fout in die wedstryd. Dit was ’n groot oomblik in die wedstryd, want feitlik strykdeur die eerste helfte moes ons net om besit baklei.”

“Kwagga se drie het die gees van die span baie positief gemaak. Ewe indrukwekkend was Kwagga se vaart in daardie lopie doellyn toe. Ons almal is egter ook baie bewus van sy vermoë in die los,” het die hoofafrigter van die Leeus gesê.

Ackermann sê die Leeus se diepte is vir die eerste keer op Superrugby-vlak op die proef gestel. Verlede jaar, sê hy, was hulle gelukkig om beserings vry te spring.

Hy en sy afrigtingspan het egter van meet af aan vertroue in die groep gehad. Dit was ook deel van hul aanvanklike beplanning dat daar in ’n stadium in die rigting van die minder ervare en jonger spelers gekyk moes word.

“Ek dink wat help, is dat die spelers vertroud is met ons stelsel. Almal van hulle weet hoe ons wil speel. Die senior manne wat getoer het, het ook goeie rigting en leiding gegee. Krediet moet ook gegee word aan die spelers wat hard vir mekaar werk. Daar is geen ego’s nie. As ons op haker, of enige ander posisie soms spelers moet roteer, aanvaar die spelers dit sonder ’n gemor. Hulle vul mekaar aan en ondersteun mekaar. Dis wonderlik dat die ‘nuwe’ spelers in die afwesigheid van die beseerdes hul kant só bring.”

Ackermann het terselfdertyd gesê dit gaan belangrik wees dat die meeste van sy beseerde spelers betyds herstel vir die uitspeel-stryde, wanneer die intensiteit veel hoër gaan wees.

Die gewilde afrigter van die Leeus het sy spelers ondanks hul sukses op toer gewaarsku dat daar nog baie harde werk voorlê as hulle terug in Suid-Afrika is.

“Besluitneming is byvoorbeeld iets wat baie sal moet verbeter as ons verder wil vorder.”

Punte: Leeus 13 (0): Drie: Kwagga Smith. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies, Andries Coetzee. Brumbies 6 (3): Strafdoele: Wharenui Hawera (2).

Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer