Kwaai ollie bestorm voertuig
'n Kwaai olifantkoei het Maandag 'n wildritvoertuig in die Bwabwata Nasionale Park in die Zambezistreek bestorm en beskadig. Die toeriste in die voertuig van Gondwana Collection Namibia se Namushasha River Lodge het geen beserings opgedoen nie en almal is veilig. Die groep toeriste het in die omgewing van die Horseshoe, 'n gewilde olifantbesigtigingspunt, 'n trop olifante op 'n afstand van sowat 50 meter dopgehou. Een koei het nader aan die voertuig gekom en sonder waarskuwing die voertuig eers van voor en toe van die kant af bestorm. Sy het die voertuig op sy sykant omgekeer. "Niemand is beseer nie omdat al die toeriste veiligheidsgordels gedra het. Hulle is ná 'n rukkie deur 'n ander voertuig opgelaai en na die lodge teruggeneem," sê Gondwana Collection Namibia op hul Facebook-blad. “Dit is die eerste keer in die geskiedenis van Namushasha River Lodge dat so 'n voorval plaasgevind het. Die gaste het hul reis deur Namibië voortgesit, al is hulle bietjie geruk, maar met 'n lekker staaltjie om te vertel." Foto Gondwana Collection Namibia
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie