Kusdorp opnuut gasheer vir blitsbulle
Kusdorp opnuut gasheer vir blitsbulle

Kusdorp opnuut gasheer vir blitsbulle

Sewesrugby
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die 2017 Internasionale Safland Sewestoernooi gaan vanjaar op 10 en 11 November op Swakopmund aangbied word waar wêreldklas aksie by die derde weergawe van die kompetisie te siene sal wees.

Nadat die eerste kompetisie in 2015 in Windhoek by die Hage Geingob-stadion gehuisves is, het die organiseerders verlede jaar besluit om die toernooi na Swakop te verskuif en verder uit te brei. 'n Uiters suksesvolle vennootskap is in 2016 met The Dome aangegaan wat gelei het tot die hoofborg se besluit om in sy 25ste ­bestaansjaar weer die geleentheid by die kus aan te bied.

Lande wat genooi is, is Suid-Afrika, Lesotho, Uganda, Kenia, Mauritius, Zambië en Zimbabwe. Die Tsjeggiese Republiek wat deur die voormalige Bulle-afrigter, Phil Pretorius gebrei word, sal vanjaar in die voetspore van Duitsland en Pole volg wanneer hy sy sewesdebuut maak.

Met die HSBC Wêreld Sewesreeks wat drie weke later in Dubai afskop, sal die Safland-toernooi die ideale platform vir 'n hele paar spanne wees om aan sekere aspekte van hul spel te slyp. Mnr. Jurie Booysen, hoofafrigter van Namibië, sal die geleentheid kry om sy spelers teen van die beste in die wêreld te toets.

Volgende jaar gaan 'n groot jaar vir sewes­rugby wees, want die Olimpiese ­Jeugspele, Statebondpele en Sewes Rugbywêreldbeker vind almal plaas. Vier spanne van Afrika naamlik ­Suid-Afrika, Kenia, Uganda en Zimbabwe sal aanstaande jaar Julie by die gesogte Sewes-wêreldbeker in aksie wees.

Behalwe dat internasionale spanne by die kus gaan opdraf, is daar voorsiening gemaak vir klubs en provinsiale spanne soos die Poemas, Valke, Bloubulle en Universiteit van Kaapstad wat 'n ekstra geur aan die die kompetisie sal gee. Op skolevlak sal seuns in die o.19-, o.17-, o.15- en o.13-ouderdomsgroepe kan meeding.

Volgens me. Elizma Theron, waarnemende uitvoerende hoof van die Namibiese Rugbyunie (NRU), beskik die toernooi oor die potensiaal om sewesrugby 'n geweldige hupstoot in Namibië te gee.

“Ons het gesien wat die 2016 Olimpiese spele vir dié sport gedoen het toe dit vir die eerste keer in Brasilië aangebied is. As die toernooi ons kan help om die 2020 Spele te bereik, sal dit uit en uit die moeite werd wees. Ons by die NRU wil almal hartlik bedank wat die kompetisie moontlik gaan maak,” het Theron gesê.

Mnr. Kallie van der Merwe, uitvoerende hoof van Safland, sê 2017 is 'n mylpaal vir die privaat maatskappy.

“Ons word vanjaar 25 oud en werk daaraan om die Frontier Property Fund op die Namibiese aandelebeurs (NSX) te noteer. Ons beskou ons ­betrokkenheid by die Safland ­Sewestoernooi as ons manier om iets aan die land terug te gee. Wat Namibië aan bevolking kort, maak ons op met ons spelers se spoed en grootte op die veld. Ons doen op dieselfde manier besigheid, ons is nie die grootste nie, maar fokus op die regte besluite en gebied wat vir ons vrugte afwerp. Namibië kan met die regte ondersteuning en toewyding 'n krag in ­sewesrugby word,” het Van der Merwe gesê.

Mnr. Jurie Booysen, voorsitter van die Coastal Sharks-rugbyklub, sê sy klub is toegerus om met bevoegde personeel as gasheer op te tree.

“Ons sien uit daarna om al die spelers en ondersteuners te onthaal. Ons het 'n ywerige span by die klub wat gereed is om 'n internasionale geleentheid aan te bied. Dit gaan 'n fees wees waar die hele gesin kan ontspan en aksie uit die boonste rakke kan aanskou,” het Booysen vertel.

Kommentaar

Republikein 2025-10-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer