Kunstenaars maak harte oop vir troeteldiere

Aanlynverkope van kunswerke in September
Tanja Bause
Tanja Bause - ’n Spesiale aanlynkunsuitstalling en -verkoping word onder die vaandel “Art-with-a-Heart” vir aanstaande maand beplan. Die uitstalling, wat amptelik op 1 September om 08:00 begin, is ten bate van die Have-a-Heart-liefdadigheidsorganisasie.
Agt gerekende Namibiese kunstenaars wie se werke skilderye, foto's en keramiek tot pottebakkery insluit, sal uitgestal en verkoop word. Die wins word aan die Have-a-Heart Spray and Neuter Clinic op Outjo geskenk. Die geld sal gebruik word om onder meer mediese toerusting vir die dierekliniek aan te skaf, asook om troeteldiere in informele nedersettings te steriliseer, kastreer, behandel en te ondersoek.
“Ons wil so veel troeteldiere as moontlik opereer om die aantal ongewenste babahondjies en -katjies, asook die aantal rondloperdiere wat nie versorg word nie, te verminder,” het me. Lindie Prinsloo, stigter van die Have-a-Heart-organisasie gesê.
Die kunstenaars wat aan die uitstalling gaan deelneem, is Anita le Roux, Heidi Louw, Lindie Prinsloo, Sonia Bergh en Wilma de Bruin. Hul kunswerke word vanaf 1 tot 30 September op die webtuiste www.art-with-a-heart.com uitgestal en verkoop. Betsy van Rensburg spog met erde- en keramiekware, terwyl Lukas Amakali sy foto’s sal uitstal. Nicky Marais se kunswerke is uit tradisionele voorwerpe, natuurlike formasies en stedelike strukture gevorm. Van die deelnemende kunstenaars het spesiale werke vir die uitstalling voltooi.
Elkeen van die kunstenaars het hul betrokke kunswerke aan die Have-a-Heart-organisasie geskenk. Uit die verkope van die ander kunswerke wat aanlyn beskikbaar sal wees, sal ’n persentasie aan die kunstenaar en ’n persentasie aan die organisasie oorhandig word.
“Dit sal duidelik onder elke kunswerk aangedui word watter werke deur die kunstenaar geskenk is.”
“Ons hoop om dit volgende jaar weer te kan doen en dan sal ons honde en katte as tema hê,” het Prinsloo gesê.
Die uitstalling is op sosiale media geadverteer en volgens Prinsloo het al die deelnemende kunstenaars onmiddellik belangstelling getoon.
“Hulle is almal mense met groot harte vir diere.”
Die Have-a-Heart-projek is in 2013 deur Prinsloo in Outjo begin, nadat sy die talle rondloperhonde wat sy graag wou help, in die Etoshapoort-woonbuurt sien ronddwaal het. In 2013 is 442 diere in vyf dorpe naamlik Outjo, Otjiwarongo, Kalkfeld, Windhoek en Rehoboth geopereer, ondersoek en versorg. In 2014 is na 483 troeteldiere in Outjo, Otjiwarongo, Lüderitz, Windhoek en Gobabis omgesien. Verlede jaar is 943 diere geopereer en die inisiatief het na agt dorpe uitgebrei met Outjo, Otjiwarongo, Lüderitz, Aus, Windhoek, Swakopmund, Gobabis en Rundu wat deelgeneem het.
In die drie jaar wat die Have-a-Heart-projek aan die gang is, is altesame 1 868 troeteldiere uit verskeie informele nedersettings gesteriliseer en gekastreer. Die organisasie hoop om die aantal rondloperdiere aansienlik te verminder en uiteindelik te verseker dat geen rondloperdiere meer voorkom nie.
“Mense is geneig om te dink dat inwoners van informele nedersettings nie vir hul diere omgee nie, maar dit is nie waar nie. Hulle het net nie die geld om die diere by ’n veearts te laat opereer nie. Met elke sterilisasieveldtog sien ons hoe mense sit en wag terwyl hul troeteldiere geopereer word,” het Prinsloo gesê.
Volgens haar is die gratis dienste wat Namibiese veeartse gedurende die sterilisasieveldtogte lewer van groot waarde.
“Hulle help graag en gee hul tyd kosteloos. Sonder hulle sou ons nie sulke groot sukses geniet nie. Deur middel van ons veldtogte het ons verhoed dat sowat 24 000 honde en katjies gebore word. Daar is duisende troeteldiertjies wat wreed doodgaan bloot omdat hul eienaars nie die geld het om hul diere te laat steriliseer nie,” sê Prinsloo.
Volgens haar het slegs 28% van alle diere in Namibië toegang tot ’n veearts. “Ons is hier om die ander 72% te help.1396986481

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer