Kuns sy passie
Tanja Bause Van kleins af het kuns mnr. Blessing Aifa gefassineer.Hy het geweet hy sou eendag sy brood en botter daardeur verdien. Op skool het hy geskilder en later in hout-en metaalwerk uitgeblink. Vandag skep hy kunswerke uit draad, metaal en ou voertuigbande.“Ek hou daarvan om kunswerke te skep wat uniek is en uitstaan. Ek hou nie van massavervaardigde kuns nie. Dit lyk alles dieselfde en die kunstenaar kom nie tot sy reg nie. Al my werk begin in my hart en is unieke stukke op hul eie,” sê Aifa.In 2009 het hy begin om kinderswaaie uit ou bande te maak. 'n Kliënt het hom gevra of hy nie 'n interessanter, prettiger swaai vir sy kind kan maak nie. Aifa het toe 'n swaai in die vorm van 'n perdjie gemaak. “Die oumense het vir ons kinders metaalwerk geleer. In daardie jare het ek nie baie belang gestel nie, maar nou is dit vir my lekker.”Aifa se droom is om mense en veral kinders in verskillende kunsvorms te kan oplei. “Ek is bang my kennis gaan verlore. Ons kan nie almal in 'n kantoor sit en werk nie, daar moet mense wees wat met hul hande werk, mense wat goed met hul hande skep,” sê hy.Aifa maak ook rame en baie van sy draadfigure word in die rame gesit. Hy het ook 'n spesiale voëlvoerder ontwerp. Dit is in 'n draadhok sodat duiwe nie by die kos kan uitkom nie. Die gaatjies is egter groot genoeg vir kleiner voëltjies om in te klim en te eet.“Ek het gesien duiwe is baie ongeskikte voëls wat die kleiner voëls pik en wegjaag as hulle by die kos wil uitkom. Kliënte het my gevra om dié voerders te maak en ek het gevoel ek moet die klein voëls probeer beskerm.”Aifa is Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 17:00 en Saterdae van 08:00 tot 13:00 voor die koffiewinkel in Klein-Windhoek waar die Wilde Eend-kwekery was.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie