KSA-president, Nenzani, u2018val op swaardu2019
KSA-president, Nenzani, u2018val op swaardu2019

KSA-president, Nenzani, ‘val op swaard’

Krieket
Tinus van Staden – Chris Nenzani, die president van Krieket Suid-Afrika (KSA) se raad, het minder as ’n maand voordat sy verlengde termyn veronderstel was om tot ’n einde te kom, besluit om “op sy swaard te val”.
“Meneer Chris Nenzani het bedank as die president van die lederaad en as voorsitter van die raad van direkteure van KSA,” het die beheerliggaam Maandagoggend in ’n verklaring gesê. Sy bedanking is reeds sedert 15 Augustus van krag.
Nenzani het die posisie vanaf 2013 beklee. Sy tweede termyn moes verlede jaar al verstryk het, maar hy het nog ’n jaar lank aangebly – ’n hoogs omstrede besluit, wat hy vroeër vanjaar gesê het hy berou. KSA se grondwet moes aangepas word om dit te bekragtig.
Nenzani en sy raad het die laaste ruk onder erge kritiek deurgeloop vir talle bestuurskwessies by KSA – onder meer die gesloer met die saak van die geskorste uitvoerende hoof, Thabang Moroe.
Moroe is in Desember geskors vir beweerde wanbestuur hangende ’n onafhanklike forensiese ondersoek na bestuurspraktyke by KSA. Daar is ’n moontlikheid dat Nenzani en sy raad ook in dié verslag geïmpliseer word.
KSA het Nenzani bedank vir sy bydrae tot die spel en het bevestig dat ’n nuwe president en voorsitter ná die jaarvergadering op 5 September aangewys sal word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer