Krukkelys open deur vir proefneming
Krukkelys open deur vir proefneming

Krukkelys open deur vir proefneming

Die oefengroep vir die twee November-toetse teen uruguay is gister aangekondig.
Andrew Poolman
Andrew Poolman







’n Lang lys beseerde staatmakers kon nie opgeroep word toe afrigter Phil Davies sy oefengroep bekend gemaak het met die oog op die komende toetsreeks teen die besoekende Uruguay op 18 en 25 November in Windhoek nie.

Met studie- en kontraktuele rugbyverpligtinge bygereken, sal Namibië die twee toetse sonder nege aktiewe veterane van die 2015 Wêreldbeker moet aanpak.

Die haker Torsten van Jaarsveld – moontlik die Namibiese toetsspan se mees waardevolle voorspeler – en sy spanmaat by die Vrystaat Cheetahs, Aranos Coetzee, is nie deur hul unie vrygestel nie. Die Vrystaters sal gedurende dié periode in die Guinness Pro14 meeding.

Die losvoorspeler van UJ, Wian Conradie, en die Blou Bulle se veelsydige buite-agterspeler Divan Rossouw van Tuks moes vanweë studieverpligtinge ook die uitnodiging van die hand wys.

Die slot Tjiuee Uanivi wat sy klubrugby in die Engelse eerste liga vir London Scottish speel, is ook net vir die tweede toets vrygestel.

Die krukkelys bevat ewe indrukwekkende name soos die voormalige kaptein en agtsteman Renaldo Bothma, wat tans by die Engelse premierliga-klub Harlequins gekontrakteer is.

Binnesenter Johan Deysel van die Sharks, wat in Juniemaand sy arm gebreek tydens ’n Wêreldrugby Nasiebeker-toets in Uruguay gebreek het, is ook nog nie terug op die speelveld nie.

Met die Pukke se haker Louis van der Westhuizen en die twee slotte Pieter-Jan van Lill (Bayonne, Frankryk) en Janco Venter (Maties) ook weens beserings buite rekening, word die Namibiese vaste vyf van verskeie spelers van gehalte ontneem. Die FNB Wanderers-hakers Shaun du Preez en Gerhard Lötter sal ook nie fiks vir die uitdaging wees nie.

Wanneer die volledige Namibiese groep op Sondag 12 November byeenkom, sal verskeie van die uitblinkers van die nasionale o.20-span vanjaar ook ’n kans kry om te wys dat hulle gereed is om op senior toetsvlak oorweeg te word.

Die o.20’s se kaptein en flank Prince !Gaoseb (Blou Bulle), die twee losskakels Cliven Loubser (Sharks) en PW Steenkamp (Pukke), die skrumskakel Wihan von Wielligh (Luiperds), stutte André Rademeyer (Westelike Provinsie) en Nelius Theron (Wanderers), haker Obert Nortjé (FNB Unam) is in die oefengroep ingesluit.

Nog ’n huidige o.20-speler is die slot Adriaan Ludick, wat by sy ouer broer Ruan (Skroef) aansluit wat reeds ’n gesoute speler met tien toetse en twee seisoene van provinsiale rugby agter sy naam is.

Van die Windhoek Draught Welwitschias gepraat, was hul stewige vertoningslys in die tweede deel van dié seisoen ’n goeie aanduider dat die vlak van die plaaslik gebaseerde spelers op ’n redelike vlak is om hoopvol vir die komende taak te wees.

Die flank Rohan Kitshoff, wat vanjaar in elke Afrika-bekertoets die kaptein was, of die Welwitschias se aanvoerder Eugene Jantjies sal waarskynlik die rol van leierskap vervul in Renaldo Bothma se voortgesette afwesigheid weens beserings.

Die twee toetse teen Uruguay is Namibië se laastes voordat hy volgende jaar in die Afrikabekertoetse meeding wat ook as die bepalende kwalifiserende geleentheid vir die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan sal dien.

In dié opsig is die proefnemings van nuwe spelers van ewe groot waarde as die moontlikheid om Namibië se posisie op die wêreldranglys met ’n sterk vertoning teen die hoër gerende Uruguay te verbeter.

Die Namibiese spelersgroep vir die twee toetse:

Stutte: Casper Viviers, André Rademeyer, Nelius Theron, Collen Smith, AJ de Klerk.

Hakers: Obert Nortjé, Niël van Vuuren.

Slotte: Tjiuee Uanivi (slegs beskikbaar vir tweede toets), Adriaan Ludick, Ruan Ludick, Mahepisa Tjeriko, Max Katjijeko.

Losvoorspelers: Prince !Goaseb, Rohan Kitshoff, Christo van der Merwe, Thomasau Forbes, Adriaan Booysen.

Skrumskakels: Helarius Kisting, Eugene Jantjies, Damian Stevens, Wihan von Wielligh.

Losskakels: Theuns Kotzé, Cliven Loubser, PW Steenkamp.

Senters: Darryl de la Harpe, Justin Newman, JC Greyling, Lesley Klim, Heinrich Smit.

Vleuels en heelagters: David Philander, Johann Tromp, Gino Wilson, Chrysander Botha.

• Die Namibiese afrigting-, bestuurs- en mediese span bestaan uit: Hoofafrigter: Phil Davies. Verdedigingsafrigter: Roger Thompson. Agterlynafrigter: JP Nel. Skrumafrigter: Jaco Engels. Krag en kondisioneringsafrigter: PD Stoman. Krag en kondisionering hulpafrigter: Sergio de la Harpe. Tegniese prestasie-ontleder: Sam Pickford. Spandokter: Dr. Vernon Morkel. Fisioterapeute: Fanie van der Merwe / Johan van Wyk. Rehabilitasie en moniteringspesialis: Dominic le Roux. Spanbestuurder: Irvin Newman. Toernooidirekteur: Wessel Kotze.

• Die Namibië Brouerye deur hul handelsmerk Windhoek Draught is die trotse borg van die Namibiese nasionale span, asook van die twee November-toetse.

CURRIEBEKER

Divan Rossouw is môre die enigste Namibiër wat in enige van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se provinsiale eindstryde vir 2017 betrokke sal wees.

Rossouw dra die 15-trui wanneer die Blou Bulle se o.21-span in die finaal teen die Westelike Provinsie uitdraf.

Namibië beskik ook oor ’n klompie spelers wat by die Bulle se o.19-groep gekontrakteer is, maar dié span is in die semifinaal deur die Goue Leeus uitgeskakel. Die jong Leeus en die Vrystaat pak mekaar in die o.19-eindstryd.

Kommentaar

Republikein 2025-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer