Kruisdraer se kruis gesteel
Kruisdraer se kruis gesteel

Kruisdraer se kruis gesteel

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - Baie mense het dalk al die man met die houtkruis op sy skouer in die straat sien verbystap. Mnr. Martin Esterhuizen stap nou al vir sy elfde jaar met sy kruis deur Suid-Afrika en Namibië, en hy vertel het al ongeveer 45 780 km gestap.
Mnr. Esterhuizen se kruistog is egter Donderdagoggend kortgeknip toe iemand sy kruis gesteel, en hy sê al wat hy wil hê, is dat iemand sy kruis vir hom terugbring.

“Ek kan nie daarsonder nie. Die kruis is my lewe,” vertel die byna-50-jarige Esterhuizen.

Hy loop elke dag met die kruis. Hy was van plan om Donderdagoggend Okahandja toe te stap, maar toe hy verby die Windhoek-polisiekantoor stap, het hy ’n oproep van ’n pastoor ontvang wat hom gevra het om na Pioenierspark toe gaan. Hy het toe die kruis agter die polisiekantoor vasgemaak en Pioenierspark toe gestap. “Toe ek terugkom, was die kruis weg. Die toue is nog net daar, hulle is uitmekaargesny, maar die kruis was weg,” vertel hy.

Die mense wat om die polisiekantoor rondgestaan het, het vir hom gesê hulle het die kruis nog 09:00 daar gesien, maar toe hy terugkom het dit net verdwyn. “Hulle almal sê dit is onmoontlik dat dit net so skielik kon verdwyn.

“Ek het vir die Here gesê ek sal die kruis dra tot ek nie meer kan nie. Ek moet die Evangelie verkondig met die kruis. Ek is baie hartseer oor my kruis; ek sal nie vanaand kan slaap nie.”

Hy vra mense moet hulle oë oophou vir sy kruis en hom kontak as hulle iemand met dit gewaar. As enige iemand hom kan help om sy kruis terug te kry of vir hom planke wil skenk sodat hy ’n nuwe een kan maak, kan hulle hom by 081 478 5914 bel.

Argieffoto: Tanja Bause

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer