Kronkelroete gee agritoerisme ’n hupstoot

Slow Mile Meander

31 March 2021 | Byvoegsels
Ronelle Rademeyer - Plaasvakansies, of agritoerisme, in Namibië is tot onlangs nog grootliks met die jagbedryf vereenselwig en beskou as ’n sektor van toerisme wat op oorsese jagters vir besprekings steun.

Toe die Covid-19-pandemie verlede jaar landsgrense gesluit en buitelandse toerisme onmoontlik gemaak het, was dit gou op sosialemediaplatforms duidelik plaaslike toeriste is uitgehonger vir reisgeleenthede en soek nuwe ervarings.

Inligting oor oulike kampeerplekke en interessante roetes en plekke word gereeld op die Facebookblaaie van inisiatiewe soos Padlangs in Namibië of Camping in Namibia gedeel.'n Nuwe dis op die spyskaart vir plaaslike toeriste is die Slow Mile Meander. Dit is ’n kronkelroete suid van die Waterberg, en oos van die B1 tussen Okahandja en Otjiwarongo.

Die roete kan kuier-kuier oor drie dae aangepak word en bied ’n ware plattelandse wegbreek na pragtige plase, goeie akkommodasie, ’n opgaardam, skemerkelkies in die veld, wildbesigtiging, ’n tweedehande boekwinkel en koffiekroeg, kunshandwerkwinkel, ’n snuffelwinkel vol antieke meubels en tipiese plaaslekkernye soos biltong en ingelegte produkte insluit.

Bianca Sohrada, wat saam met haar man Hans op die plaas Ouhave met onder meer Nguni’s boer, sê dit is die gebied se onontdekte sjarme wat hulle en ander mense op die roete laat besluit het om dit as ’n reisgeleentheid te bemark.

“As gaste by Ouhave Country Home wil besoek, kan hulle dit rit hierheen kuier-kuier aanpak,” sê Bianca.

Buite Okahandja draai hulle af op die Hochfeldpad en kan, as hulle belangstel, binne 400 m weer regs draai na Okonjoka Antiques van Herman Steyn waar ’n verskeidenheid antieke meubels en artefakte verkoop word.

Van daar af kan hulle na die Omatakodam ry, wat aan die D2404 geleë is. Bianca sê die dam se besonderse voëllewe maak dit 'n paradys vir voëlkykers. Boonop is dit ook die ideale plek om piekniek te hou.

Van die dam af ry mense verder met die D2404 tot waar die pad na die Osire-vlugtelingskamp afdraai.

Ouhave van die Sohradas is aan die D2459, 250 km vanaf Windhoek geleë.

Buiten die tien gerieflike gastekamers, is daktent-kampering ook moontlik.

Die aktiwiteite op die plaas sluit ‘n plaastoer waartydens Hans hulle van die Nguni-beesras en inheemse kleinveerasse op Ouhave vertel.

Bianca en haar buurvrou, Helga Kebbel, bedryf ook Ekoti Crafts van die plaas af. Hulle ontwerp en maak dekorartikels en handsakke van gelooide Nguni-velle.

Ekoti Crafts verkoop ook biltong en ander vleisprodukte, volstruiseiers wat met Nguni-ontwerpe beskilder is en ander kunshandwerk.

Die volgende dag kan gaste plaas Penwood van Janus en Maritza Lepen besoek. Dit is aan die C30 geleë.

Hier kan hulle ’n wildbesigtigingstoer doen en ’n skemerkelkie in die veld geniet, vanwaar hulle ’n mooi uitsig op die Waterberg het. Maritza sê mense kan dan of terugry na die Sohradas en daar oorslaap, of op Penwood kamp. Sy sê hulle beskik nog nie oor die nodige geriewe nie en hierdie opsie is net vir mense wat goed ingerig is en van ’n primitiewe kamperingservaring in die veld hou.

Die Lepens beplan egter om akkommodasiegeriewe op te rig.

Maritza lê allerlei lekkerhede in en verkoop ook vars plaasprodukte aan besoekers. Die Lepens produseer ook houtskool en besoekers kan beleef hoe dit gedoen word.

Bianca sê die idee is om van daar af Otjiwarongo toe te gaan waar verskeie mooi gastehuise en lodges is. Bushpillow is die een wat deur lede van die Slow Mile Meander aanbeveel word.

Nog een van die ervarings op die roete is die Bohemia Bookshop & Coffee Bar op Otjiwarongo. Dit is ’n sjarmante snuffelwinkel vol tweedehandse boeke, klere en ander items. Koffee, tee, koek en ligte etes word bedien.

As jy nog nie planne het vir die Paasnaweek of die langnaweke in Mei nie, is hierdie net die wegbreek vir jou.

Vir meer inligting oor die roete, kan mense vir Bianca by 081 289 8287 of [email protected] kontak.

Soortgelyk

 

Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

10 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – Huldeblyke het gister uit onderwys- en ander kringe ingestroom nadat die skoolhoof van Pro-Ed Akademie se hoër­skool op Swakopmund, mnr. Henry McCarthy,...

ReconAfrica voor hof gedaag

10 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer – Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) het sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur 'n familie by Mbambi...

Weer vir 10 Mei 2021

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en warm...

Nog NBC-werkers keer terug

10 ure gelede | Arbeid

Hoewel die NBC-staking landswyd voortduur, het 74 werknemers intussen teruggekeer werk toe en is die Engelse radiodiens, National FM, weer terug op die lug. Die...

Noodkreet teen misdaadvlaag

10 ure gelede | Misdaad

Tunohole Mungoba op Oshakati – Die Oshakati-stadsraad het Donderdag 'n openbare vergade­ring in Okandjengeni-Suid op dié dorp gehou waar verskeie veiligheidskwessies geopper en klagtes teen...

Dwelms van amper N$2 miljoen gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie is in April meer mense in besit van dwelms in hegtenis geneem as gedurende Maart. In Maart is 106 mense in...

Nuwe lewe in onooglike kraghuis geblaas

10 ure gelede | Kuns en vermaak

Claudia Reiter – Die kunstenaars Kat en Lens het die mure van 'n transformator-substasie in Conrad Ruststraat in Klein Windhoek geverf en verfraai. “Ons ry...

Geen partytjie vir Nujoma

10 ure gelede | Gemeenskap

Die kantoor van die stigterspresident Sam Nujoma het aangekondig hy gaan nie op 12 Mei sy 92ste verjaardag met 'n openbare byeenkoms vier nie. Dié...

Betaaldag hier vir Air Namibia se personeel

10 ure gelede | Vervoer

Ogone Tlhage – Die minister van openbare ondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het bevestig die regering het 'n gedeelte betaal van die N$278 miljoen wat...