Kroklooiery lok toeriste
Kroklooiery lok toeriste

Kroklooiery lok toeriste

Denver Kisting
Die nuwe eienaars van Otjiwarongo se krokodilplaas streef die afgelope agt jaar daarna om topgehalte krokodilvelle aan die internasionale mark te lewer.

Hoewel groot vooruitgang gemaak is op hierdie gebied, het internasionale modehuise dit vir kleiner krokodilboere bykans onmoontlik gemaak om internasionaal mee te ding.

Ontwerpershandelsmerke besit tans hul eie reuse-krokodilboerderye, leerlooierye en vervaardigingshuise.

In die lig hiervan het die Otjiwarongo Crocodile Farm besluit om krokodilvelle plaaslik te laat looi vir die maak van artikels om aan toeriste te verkoop.

‘n Nuwe reeks ekslusiewe handsak-, beursie- en gordelontwerpe, asook ander bykomstighede soos armbande en sleutelhouers sal in Junie 2018 teen baie billike pryse beskikbaar wees.

Namibiese krokodilvelle is vantevore nat én gesout na Europa en Asië uitgevoer.

Hoewel die besluit om krokodilvelle plaaslik te laat looi duur is, behoort dit op die lange duur ’n positiewe bydrae tot Namibië se ekonomie te maak.

Toeristeoorde en aandenkingwinkels kan van Junie af met die Otjiwarongo Crocodile Farm in verbinding tree om voorraad te bestel.

Intussen is die toeriste-area op die krokodilplaas opgeknap deur ’n platform reg by die krokodille aan te bring.

Uitstekende en vreesaanjaende foto’s kan hiervanaf geneem word.

Krokodilvleis bly ’n baie gesogte maaltyd op die plaas en word as baie gesond beskou omdat dit min vet bevat.

Die plaas se nuwe spyskaart bied ook ’n verskeidenheid Namibiese vleisgeregte.

Krokodille word Saterdae om 11:00 gevoer en kuiergaste neem dié skouspel graag af.

Die plaas kan Maandae tot Vrydae van 8:00 tot 17:00 besoek word, en Saterdae en Sondae van 9:00 tot 15:00.

Kommentaar

Republikein 2026-08-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer