Kriminele teister klein dorpies
Kriminele teister klein dorpies

Kriminele teister klein dorpies

Augetto Graig
Augetto Graig

Gewapende roof het verlede week die rustige dorpie Dor­dabis getref toe twee mans rolprentstyl-bankrowery gepleeg het. Omtrent halfvyf Donderdagmiddag het gille om hulp van die vroulike kassier by Dordabis Nampost die stil dorpie se vrede verpletter.
Kinders wat buite gespeel het, was die eerste om te reageer toe hulle ’n polisielbeampte daaroor ingelig het. Hulle moes eers later uitvind dat die gille die kassier se reaksie was toe ’n gewapende jong man by die kantoor ingestap, haar met ’n vuurwapen gedreig en geld geëis het.
Die verdagte het met N$6 000 in kontant weggekom voordat hy in ’n rooi sedanvoertuig gespring het wat net ’n paar meter van die toneel geparkeer was. Sy medepligtige was egter nie bedrewe genoeg om tydens die ontvlugtingstog die polisie te ontduik nie. Albei is gevang en beslag is op die motor gelê.
Saam met die kontant het die polisie ook toerusting vir die vervaardiging van vervalste geld gevind, asook ’n handskoen en kleefband. Die twee jong mans, een 24 jaar oud en die ander 34, sou gister in die hof in Windhoek verskyn het.
Twee ander mans het Sondag hul ontsnappingsvernuf op Omaruru vertoon toe hulle uit die aanhoudingselle by die polisiekantoor op die dorp verdwyn het. Wilbard Abraham (25) het op sy hofdatum vir twee klagte van huisbraak gewag. Gideon Malima (30) moes voorkom op ’n klag van veediefstal en ook vir ’n vorige ontsnapping.
Volgens die polisieverslag het hulle die diefwering teen die plafon deurgesny en deur die sel se dak ontsnap. Die Namibiese polisie vra die publiek se hulp om hulle op te spoor. Enige persoon met inligting word gevra om die polisiekantoor op Omaruru of hul naaste polisiekantoor te kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer