Krieket wil gemeenskappe met boodskap bemagtig

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Mnr. Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, het Vrydag by die beheerliggaam se korporatiewe gholfdag ’n ooreenkoms met Future Media aangekondig.

Muller het by die Windhoek Buiteklub gesê Krieket Namibië het ’n visie om die sport na elke uithoek en veral die noorde van die land te neem.

“Krieket het ’n gewilde sport vir korporatiewe maatskappye geword as ’n manier om hul handelsmerk te bemark. Kommersiële vennote sal gulde bemarkingsgeleenthede en blootstelling met ons beoogde programme ontvang.

“Die vennootskap met Future Media stel Krieket Namibië in staat om sy ideale en planne op ’n wye platform met die gemeenskap te deel. Krieket Namibië het ’n strategiese plan om die sport na veral die noordelike streke, asook kleiner plattelandse dorpies te neem.

“Future Media is die ideale vennoot om Krieket Namibië in sy taak by te staan deur mense van krieket bewus te maak. Die groep se vier radiostasies bereik die breë gemeenskap en dek bykans die ganse Namibië. Ons is werklik bevoorreg om Future Media as ’n vennoot met sy diverse gehoor in Namibië te hê,” het Muller verduidelik.

Mnr. Gary Stroebel, hoofbeampte van Future Media, sê dit was ’n maklike besluit om hul gewig by Krieket Namibië in te gooi.

“Toe Johan hul planne en sy visie vir krieket met my bespreek het, het ek nie een oomblik gehuiwer om deel van die inisiatief te word nie.

“Krieket het reeds vele betekenisvolle mylpale die afgelope maande bereik en met ’n bestuurspan agter die skerms wat dié sport en sy behoeftes verstaan, het Krieket Namibië die ideale teelaarde vir borge geskep om hul handelsmerk te bemark.

“Ons idee is om die Namibiese jeug te inspireer. Tussen Future Media se vier stasies (Fresh FM, Nova 103.5, Omuluga Radio en Radiowave) bereik ons tussen 75 en 80 persent van Namibiërs op verskeie vlakke.

“Krieket is ’n sport vir almal om te geniet. Met sulke inspirasie kan die jonger generasie Namibiërs van verskillende dorpe ook daarvan droom om in die groot stadions krieket te speel.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe ’n klein landjie soos Namibië met beperkte hulpmiddels en klein bevolking in staat is om suksesvol teen groter krieketlande te presteer. Ons as besighede is dit verskuldig aan Krieket Namibië om hulle in die toekoms te ondersteun.

“Ons taak by Future Media is om seker te maak Krieket Namibië se boodskap bereik elke Namibiër om krieket te ontwikkel en te bevorder,” het Stroebel gesê.

Muller sê: “Krieket Namibië is ingenome om ’n vennoot soos Future Media aan boord te hê om ons boodskap suksesvol aan die res van Namibië te bring.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer