Krieket-krygers

Krieket
Tinus van Staden - Dit is moeilik om die Protea-span van die laaste drie eendagwedstryde te versoen met die een wat die laaste paar maande soos ’n groep slaaplopers rondgeploeter het.

Dis asof iets net skielik gekliek het. Asof groentjie-kolwers soos Janneman Malan, Kyle Verreynne, Jon-Jon Smuts en veral Heinrich Klaasen doelgerigtheid na die kolforde gebring het. Betreklik onervare boulers soos Lungi Ngidi, Lutho Sipamla, Anrich Nortjé en Daryn Dupavillon het ingestap en die boulplanne vreesloos en vaardig uitgevoer.

Dit was nie nodig nie, die teiken sou nooit te groot wees as hulle net slim gekolf het nie.

Dít het hulle gedoen.

Verreynne (50, 50 balle), Smuts (84, 98 b) en Klaasen (68*, 63 b) was almal gister weer goed. Hul goeie oordeel het uitgestaan.

Die belangrikste kolwer, Quinton de Kock, het gesukkel en die 26 wat hy gister gekry het, was sy grootste bydrae in die reeks. In die verlede moes hy die kolflys dra, maar nie in dié reeks nie.

Die res van die kolwers het vennootskappe gebou – ’n Achilleshiel wat die kolflys die laaste ruk lamgelê het.

Sewe van die 18 vennootskappe in die reeks was meer as 50 lopies werd, waarvan vier meer as 80 en een meer as 100.

Gister was dit dieselfde storie. Verreynne, wat ’n groot toekoms het met sy temperament en goeie houespel, het eers saam met Smuts 96 om die derde paaltjie opgestapel, waarna Smuts en Klaasen met 79 voortgebou het.

Die boulers was ook veel meer bestendig as in die T20-reekse teen Engeland en Australië.

Die Aussies se gevaarlikste kolwers – Aaron Finch, David Warner en Steve Smith – is beperk.

Marnus Labuschagne, ’n boorling van Klerksdorp, het wel sy eerste eendaghonderdtal vir Australië ten aanskoue van sowat 35 van sy familielede aangeteken, maar die res van die Aussie-kolflys het hom nie gehelp nie.

Anrich Nortjé (2/35 in sewe boulbeurte) en Lutho Sipamla (0/40) het skitterend geboul met die nuwe bal en die Aussies g’n ruimte gegee nie.

Die debutant Daryn Dupavillon (1/21 in ses boulbeurte) was puik. Die draaiers Smuts (2/42 in nege bbe.) en Keshav Maharaj (0/45 in tien bbe.) het die krane in die middelbeurte toegehou.

De Kock het sy boulers goed roteer en aangewend.

Sy kapteinskap is nog ’n pluspunt uit dié reeks.

Hy het in ’n kort tyd baie gegroei, wat alle aspekte van sy kapteinskap betref.

Vir ’n paar spelers was dié reeks ’n kans om naam te maak vir hulself. Bykans almal se aandele het gestyg.

Met die oog op die T20-Wêreldbekertoernooi, het hulle vir die keurders gewys ervaring is nie al wat tel nie. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer