Kreefkenner vermis
Kreefkenner vermis

Kreefkenner vermis

Augetto Graig
Augetto Graig - Kreefkenner en bobaas seevaarder mnr. Peter John Raubenheimer (57) word nog steeds gesoek nadat hy Saterdagoggend naby Oranjemund in die Atlantiese Oseaan vermis geraak het.

Die soektog na Raubenheimer vind nou net op land plaas nadat die seesoektog gister amptelik voltooi is. Volgens ''n woordvoerder van die Namibiese polisie, komm. Edwin Kanguatjivi, het Raubenheimer omstreeks 02:30 Saterdag in die Atlantiese Oseaan naby Oranjemund (26 15 68’S – 015 16 1’E) verdwyn.

Volgens die polisie was Raubenheimer as eienaar, een van drie mans op die splinternuwe kreefboot M/V Caladero II, wat hulle in Kaapstad gaan haal en mee na Lüderitz gevaar het. "Gedurende die vaart het die boot skroefprobleme ondervind. Saam met die vermiste was mnre. Aldo Zane Peterson, die boot se 46-jarige ingenieur, en die jong matroos Darrek Bradley Bester (20)," het Kanguatjivi gesê.

Nadat die boot gestrand het, het Raubenheimer uitgeklim om die skade te bekyk en die boot weer in die water probeer stoot. Dit was die laaste wat hy gesien is, volgens die polisieverslag. Reddingspanne is per helikopter na die toneel gestuur en die soektog op see het tot gister geduur, sonder enige resultate.

Die boot is na die Lüderitz-hawe gesleep en het Saterdag omstreeks 17:25 daar aangekom. Die Namibiese polisie soek nog langs die woestynkus vir enige teken van die bekende Büchter wat jare lank, voor sy aftrede, bevelvoerder van die vismaatskappy Seaflower se vloot was.

Kommentaar

Republikein 2026-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer