Kreeffees om die draai

Seekos reeds op ys
Augetto Graig
Augetto Graig

’n Hoogtepunt op Lüderitz se sosiale kalender – die jaarlikse Kreeffees – wink, met die immergewilde geleentheid wat vanaf ­28 April tot 1 Mei plaasvind.
Die dorp se inwoners is in rep en roer oor die fees wat vanjaar beloof om groter as ooit te wees.
Volgens die dorpsraad se woordvoerder, me. Johanna Ileka, is meer as N$200 000 se heel krewe in voorraad. Nou is dit net nog wag tot 26 April wanneer die stalletjies en tente by die Waterfront opgerig word. Teen 14:00 Woensdag (27 April) sal uitstallers die nodige inligting ontvang en begin registreer voor die hekke amptelik op Donderdag 28 April om 08:00 open.
Daardie eerste aand word die rolprent Paths to Freedom by die hawe se vierkant vertoon en Vrydag word ’n sakekonferensie by die Nest-­hotel gehou.
Gassprekers by die konferensie is Lüderitz se burgemeester, me. Helaria Mukapuli, wat die opening behartig, waarna die streekgoewerneur, me. Lucia Basson, en die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, deelnemers te woord sal staan. Mnr. Immanuel Namukomba van Lüderitz se sakekamer gaan gesels oor die dorp se besighede.
Ander onderwerpe waaroor gesels word, sluit in waarom Lüderitz ’n goeie plek vir beleggings is, die dorp en sy toekoms, en wat die tweede fase van die Waterfront-ontwikkeling behels. Ekonome, kenners op onderskeie vakgebiede en mense in die toerismebedryf sal meer hieroor uitbrei.
Ook op die Vrydag maak stalletjies by die “Namport Shed” en by die ­Waterfront om 08:00 oop.
By die Benguela-gemeenskapsaal, beter bekend as die ou bioskoop­saal, vind die kroning van Mej. Kreeffees om 19:00 plaas waarna besoekers vanaf 22:00 by Aeroplane Bay op die strand kan gaan dans.
Saterdag vind die amptelike opening plaas met toesprake wat om 08:00 begin. Daarna volg ’n toer vir genooide gaste deur die stalletjies voor hulle vir ’n private middagete op Haai-­eiland aansit. Nog ’n dans op die strand sluit die dag se verrigtinge af.
Sondag se program sluit ’n vertoning van die rolprent Namibia, the Struggle for Liberation in voor die hoofsaal om 20:00 sluit.
Ander hoogtepunte op die fees se program sluit konserte, strandsport en potjiekoskompetisies in.

Kommentaar

Republikein 2026-07-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer