Kotzé tree uit voor Wêreldbeker

Hy is die enigste kolwer ter wêreld wat sy land se eerste honderdtal in internasionale T20- én eendagkrieket geslaan het.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – JP Kotzé se afwesigheid in die Namibiese Eagles vir die huidige Castle Lite tuisreeks teen die Ontluikende Zimbabwe is daaraan toe te skryf dat hy die nasionale afrigtingspan onlangs van sy uittrede as krieketspeler in kennis gestel het.

Op net 27-jarige leeftyd en met die unieke vooruitsig van Namibië se debuut in die T20 Wêreldbeker (17 Oktober tot 194 November in die Emirate en Oman) net om die draai, het Kotzé se onverwagse uittrede die wenkbroue laat lig.

“Die Wêreldbeker was beslis 'n sterk oorweging en die besluit is nie ligtelik geneem nie, maar ek het onlangs 'n voltydse werk begin (finansiële bestuurder by die Microsoft-vennoot, opleidingsmaatskappy en diamanthandelaars Tate Group) en ek het die punt bereik waar ek moes besluit om my loopbaan en my jong familie as hoofprioriteit te stel,” het hy gister verduidelik.

Kotzé was lank die Eagles-paaltjiewagter totdat Zane Green nommer een geword het. Dis egter as 'n topkolwer dat hy vir verskeie merkwaardige beurte onthou sal word. Wanneer hy die dag op stryk was, was hy 'n uiters doeltreffende wedstrydwenner.

Neem as voorbeeld die dag in September 2019 in Florida, toe hy teen die VSA 136 lopies van 109 balle gemoker het. Twee van sy sesse wat hy saam met die wind skoon uit die stadion geslaan het, het glo oor die 100 meter ver grondgevat.

Dié honderdtal was geskiedkundig – die eerste deur 'n Namibië-kolwer in 'n internasionale eendagwedstryd.

Hierdie ODI-status vir die land is maar in April 2019 ná 16 jaar herwin, toe Namibië op tuisbodem die Wêreldkrieketliga Twee-toernooi gewen het.

Kotzé het in laasgenoemde reeks se laaste wedstryd by die WAP-veld in Pionierspark die arme Hongkong vir 148 lopies van net 86 balle geplunder. Kotzé het sy honderdtal van net 62 balle behaal en het met 15 viere en nege sesse afgesluit. Sy 243-vennootskap met Stephen Baard (122) om die tweede paaltjie het bygedra om die gasheerspan se totaal tot 'n reusagtige 396/3 op te stoot, voor hulle Hongkong vir 245 uitgeboul het om met 151 lopies te wen.

Die honderdtal teen Hongkong het hom 'n benoeming deur die Internasionale Krieketraad besorg as finalis vir die beste kolfbeurt vir enige land met IKR-assosiaatstatus.

Ewe histories was dat Kotzé die eerste honderdtal deur 'n Namibiër in 'n T20I-wedstryd (sy internasionale debuut in dié formaat) aangeteken het. Dit was met sy 101 nie uit nie (43 balle, 7x4 9x6) teen Botswana by die United-veld in Augustus 2019.

Kotzé sonder sy vertonings teen VSA en Hongkong uit as die hoogtepunte van sy loopbaan – tesame met die feit dat hy die enigste kolwer ter wêreld is wat beide die eerste honderdtalle in ODI's én T20I's vir sy land geslaan het.

Die laagste laagtepunt? Die toer na Skotland in 2015, waar die Namibiërs hulself opgewerk het tot 'n situasie waar hulle enige van drie opeenvolgende wedstryde moes wen om hul Wêreldbeker-plek oop te speel, maar al drie verloor het.



BEGINDAE

Kotzé het van jongs af uitgeblink en het Gauteng se skole­spanne vanaf onder 11 tot o.19 verteenwoordig en ook die Suid-Afrikaanse o.19 Skolespan gehaal.

Ná matriek het hy Namibië toe gekom en was lid van kaptein Gerhard Erasmus se o.19 Wêreldbekerspan na Dubai in 2014.

Dit was 'n “besonder goeie oesjaar” – met feitlik al die spanlede, insluitend Erasmus, Kotzé, JJ Smit, Zane Green, Michau du Preez, Xander Pitchers, Tiaan Snyman en Bredell Wessels, wat in verskillende stadiums na die nasionale senior span deurgebreek het.

Kotzé het inderdaad sy senior provinsiale debuut vir Namibië reeds die vorige jaar teen KwaZulu-Natal in Durban gemaak. Hy het uiteindelik onder drie nasionale afrigters gespeel – Doug Watson, wyle Dee Thakur en Pierre de Bruyn.

Erasmus, huidige Eagles-kaptein, sê: “Ek reken JP was een van Namibië se mees natuurlike begaafde krieketspelers ooit. Ek het gesien hoe hy sekere boulers vreesbevange maak, want hy kon vanuit enige situasie 'n wed­stryd eiehandig wen. Ons sal sy talent en vaardighede beslis mis.”



VINNIGE FEITE

Beste bouler/s teen wie hy gespeel het? “Duanne Olivier en Tabraiz Shamsi, wat tans boaan die lys van beste boulers in eendagkrieket is.”

Gunstelingbestemming vir 'n kriekettoer? “Nieu-Seeland. Die mense is vriendelik en ons het nie vreemde weer daar ondervind nie. Die land het plase en 'n kuslyn ... 'n gevoel baie soortgelyk aan Namibië.”

Gunsteling kamermaat op toer? “Bernard Scholtz is 'n baie kalm karakter. Die laaste tyd met Jan Frylinck was ook aangenaam. Hy kry dit reg om my in 'n ontspanne luim te kry en ons deel heelwat belangstellings.”

Allerminste gunsteling kamermaat? “Ek is baie lief vir Gerrie Snyman, maar hy snork te hard.”

FOTO
JP Kotzé slaan ’n ses op pad na sy honderdtal teen die VSA in Hollywood, Florida in 2019. Foto’s Peter Della Penna (ICC)

Kommentaar

Republikein 2025-08-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer