Koste van data drasties gesny
Koste van data drasties gesny

Koste van data drasties gesny

Augetto Graig
Paratus het Dinsdag hul datakoste vir kliënte wat ekstra toegang tot die Internet benodig met 83,4% gesny.

Die grootste privaat telekommunikasiemaatskappy in Afrika, wat ook die vinnigste op die vasteland groei, sê hy bied Namibiërs nou die ­goedkoopste databondels en die mees ­bekostigbare data.

Dít teen net N$15 per gigagreep.

“Welkom by die revolusie!” het Paratus se besturende direkteur, mnr. John D'Alton, gesê.

Hy beskryf dié verwikkeling as 'n “ontwrigting” van die mark, wat 'n lang­durige effek op die Namibiese kommunikasietegnologie-sektor gaan hê.

Die “revolusionêre” verlaging van "top-up" datakoste is aangekondig saam met die voltooiing van Paratus se plaaslike satelliet- grondstasie se tweede opgraderingsfase.

Die Omajowa2-grondstasie se verbinding van Windhoek se noordelike ­nywerheidsgebied af is onafhanklik van enige derdeparty- telekommuni­­kasie-infrastruktuur en skep verbindings met Paratus se mikrogolf- en die veselgrade.

Dit is een van vier soortgelyke satelliet- grondstasies.

Die ander drie is in die Verenigde ­Koningryk, Angola en Suid-Afrika.

Net Telecom Namibia besit 'n soortgelyke grondstasie in Namibië.

Volgens D'Alton het Paratus verwag die grondstasie, wat in 2008 reeds voorgelê is, sou marktariewe met sowat 25% afdruk.

Die werklike impak was toe nader aan 'n 80%-verlaging.

Die opgeknapte grondstasie stel die maatskappy nou in staat om hul data plaaslik teen die tweede billikste tarief in Afrika te verkoop.

Volgens navorsing is die ­gemiddelde koste van data wat in Namibië as aanvulling op vooraf­betaalde kontrakbondels gekoop word, tussen N$800 en N$900 per gigagreep.

Paratus-kliënte sal nou slegs N$750 vir 50 gigagreep se data betaal.

Volgens mnr. Schalk Erasmus, die ­Paratus-groep se ­hoofbedryfsbeampte, is dié besparings van toepassing op maatskappye se drie verskillende ­tegnologie-diensplatforms: Wimax (Wi-Fi), LTE (netwerk) en vesel-tot-huisverbinding.

D'Alton sê Paratus se internet­verbindingspoed is reeds vinnig, en die verandering in koste het geen impak daarop nie.

Erasmus het ook genoem Paratus is toegewy aan die voortdurende ­verbetering van toegang tot inligtingskommunikasietegnologie in Namibië.

Die maatskappy lê ­ondergrondse vesel­kabels op sewe Namibiese dorpe aan en brei hul veselnetwerk van die hoofstad af uit na ­Swakopmund en Walvis­baai deur Okahandja, terwyl hulle ook ná die lughawe die Finkenstein-­woonbuurt daaraan ­gekoppel het. Volgens D'Alton is satelliet­tegnologie veral 'n goeie opsie vir verafgeleë plekke soos plase, oorde en plattelandse gemeenskappe.

Die grondstasie verskaf topgehalte verbinding met die wêreldwye web.

Hy sê die maatskappy het al drie keer sedert 2006, in 2012 en weer in 2016, 50 satellietskottels teen geen koste aan die regering verskaf om afgeleë ­gemeenskappe met die moderne wêreld te verbind.

“Hulle moet net sê waar hulle dit wil hê,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-09-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer