Koshuis open vir 776 leerders

Uit die 875 leerders van Shituwa Sekondêre Skool bly die oorgrote meerderheid tans in die nuut geopende koshuis.
Tunohole Mungoba
Tuyeimo Haidula op Endola – Leerlinge aan die Shituwa Sekondêre Skool in die Ohangwenastreek het ’n sug van verligting geslaak toe hul nuut geboude koshuisblok vandeesmaand eindelik geopen is.

Te wyte aan regeringsburokrasie en geldtekorte moes leerders noodgedwonge in vuil toestande leef terwyl langer as ses jaar gewag is vir ’n skoolkoshuisblok om voltooi te word.

Die skool het sowat 875 leerders en die skool huisves tans 776 in die koshuis – 400 meisies en 376 seuns.

Die koshuis word sedert 2016 gebou en sou aanvanklik in 2017 voltooi wees en in 2018 deur leerders bewoon word, maar die bouproses het gesloer.

Voor die opening van die koshuis is die leerders in oorvol sinkplaatkamers gehuisves waar sommiges weens die beperkte beskikbaarheid beddens moes deel.

Diegene wat nie deur die skool gehuisves is nie, moes lang afstande loop om skool by te woon en ander leerders is in ongunstige plekke gehuisves.

Die leerders se swak toestande van huisvesting het ook die skool se koers van afwesigheid verhoog.

Toe regeringskole vir die 2021 akademiese jaar geopen het, het sowat 580 graad 10-leerders van Shituwa nie skool hervat nie, omdat hulle gewag het op die kontrakteurs om uitstaande kwessies met water- en elektrisiteitsverbinding by die koshuis af te handel.

LEERLINGE DEEL BEDDENS

Die skoolhoof, mnr. Hendrick Nghinyengwasha, sê die ergste is verby, aangesien die leerders nou in ordentlike akkommodasie woon.

’n Mediatoer deur die koshuis het getoon die skool het steeds nie genoeg beddens vir al die leerlinge ontvang nie. Sommige leerlinge moet op matrasse slaap en ander moet beddens deel.

Die skool se graad 11’s slaap tans op ou beddens.

"Ons het ook nie beddens nie en gebruik vir eers die beperkte aantal beddens van die ou koshuis,” het Nghinyengwasha gesê.

Die hoof sê hy is hoopvol die uitstaande kwessies sal opgelos word.

Die skool het die vierde plek ingeneem in hul streek se graad 11-uitslae wat in Januarie bekend gemaak is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer