Kortnuus 21 April 2021

Dani Booysen
Otavi



Dorpsraad wil buurte ophef



Die dorpsraad van Otavi beplan om sowat 300 inwoners van die Kap en bou-nedersetting op gedienste erwe te hervestig.

Die sinkhuisbuurt het ongeveer ses jaar gelede ontstaan.

Burgemeester Isaac Hoaeb het gesê nuwe erwe sal bekostigbaar wees, maar kan nie verniet uitgedeel word nie. Daar is ook planne om die buurte van !Naruseb en New Cairo te formaliseer.

Hoaeb het inwoners se hulp versoek om die dorp se skuld van byna N$50 miljoen te delg.



Windhoek



Hef aan voor vir OG



Die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) moet in die huidige boekjaar 94 ouditverslae voltooi.

Hiervan is 39 vir staatsinstellings en 55 vir streeks- en plaaslike owerhede en statutêre liggame. Ander take van die waghond sluit in 60 bate-opnames en 12 gespesialiseerde oudits, byvoorbeeld oor die skoolvoedingskema en die werk van die voedselbank.

Minister Christina //Hoebes het die inligting verstrek tydens die motivering van die OG se begroting van N$108 miljoen.



Khorixas



Gemeenskap betoog oor aanstellings



Sekere inwoners van Khorixas het Maandag teen vermeende onregverdige aanstellings in die Kunenestreek deur die ministerie van onderwys, kuns en kultuur betoog.

Gegriefdes voer aan skoolrade se aanbevelings is nie in ag geneem toe 'n kortlys vir onderhoude met voornemende skoolhoofde opgestel is nie. Die personeelbeampte het glo besluit wie is in en wie is uit.

Die betogers beweer die blatante voortrekkery is “gewettigde korrupsie”.



Opuwo



Tussenverkiesing vind in Julie plaas



Die verkiesingskommissie het Maandag met kiesersopleiding in Opuwo se landelike kiesafdeling begin.

'n Presiese datum moet nog vasgestel word vir die tussenverkiesing wat die amp van wyle raadslid Cornelius Kakuva moet vul.

Die bykomende registrasie van kiesers begin Maandag. 'n Totaal van 101 registrasiebeamptes sal die naweek hul opleiding ontvang en sal 91 nedersettings in 22 spanne besoek. – Alle berigte Nampa

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer