Kortnuus

NAMPA
Muroro

Motorongeluk eis meisie naby Rundu

‘n Elf-jarige meisie is op slag dood toe sy Saterdagnag naby die Muroro-nedersetting in Kavango-Oos omgery is.

Maria Ndara het probeer om die pad oor te steek toe die voertuig haar getref het, het die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die streek, adj.komm Bonifatius Kanyetu, gesê. Die omgeluk het omstreeks 19:50 op die Trans-Caprivi-hoofweg plaasgevind. Die bestuurder van die voertuig was onderweg na Rundu.

OngwedivaPionier motorwerktuigkundige sterf

Die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) se noordelike tak het die dood van mnr. Gabriel Kandjengo, ‘n vooraanstaande afgetrede sakeman en voormalige Swapo-lid van die Ongwediva-dorpsraad aangekondig. Volgens ‘n verklaring deur die NCCI, is Kandjengo op 17 Januarie op die ouderdom van 86 jaar in die Oshakati Intermediêre Hospitaal dood. Hy was die eienaar van ‘n motorwerktuigkunde garage op Ongwediva wat sy deure verlede jaar in Oktober gesluit het toe Kandjengo afgetree het. Kandjengo laat sy vrou, Lucia en 19 kinders agter.

Windhoek

Uitspraak in voormalige NWR-baas se saak vandag (Dinsdag)

‘n Uitspraak in die korrupsieverhoor van die voormalige besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts (NWR), mnr. Tobie Aupindi, en sy Italiaanse sakevennoot, mnr. Antonio di Savino, word vandag (Dinsdag) verwag.

Die twee sakemanne het gister (Maandag) weer in die Windhoek-landdroshof voor landdros Ndapewa Celma Amadhila verskyn. Die saak is tot vandag uitgestel wanneer landdros Helvi Kauna Shilemba, wat voorsit in die saak, na verwagting uitspraak sal lewer. Op 14 Julie verlede jaar het die hooggeregshof ‘n aansoek om appèl deur Aupindi, vir die verwydering van landdros Shilemba vir vooroordeel, van die hand gewys. Die twee sakemanne word daarvan beskuldig dat hulle vals inligting aan die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) verskaf het.

Adolf

Nedersetting benodig afvalbestuur

Die gewilde vleis en “kapana” (gebraaide vleis) onderneming van die Adolf informele nedersetting in die Ondangwa landelike kiesafdeling is ‘n gesondheidsrisiko omdat verkopers beeste in onhigiëniese omstandighede slag. Die beeste word onder bome geslag en die afval word oral in die omgewing, veral in ‘n nabygeleë waterpan weggegooi. Al is die nedersetting nog nie geproklameer nie, het dit vinnig as sowel ‘n sake- as residensiële sentrum gegroei. Tydens ‘n skoonmaakveldtog Saterdag het die voorsitter van die Onelago United-sokkerklub, mnr. Herman Paulus, ‘n beroep op verkopers gedoen om saam te werk om ‘n behoorlike slagpale tot stand te bring. “Ons het die skoonmaakveldtog begin nadat ons besef het die vinnig groeiende sakeondernemings het tot enorme afvalstorting gelei,” het hy gesê.

- Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer