Kort nuus u2013 Internasionaal
Kort nuus u2013 Internasionaal

Kort nuus – Internasionaal

Amerika
Bill Cosby tronk toe gestuur

Die Amerikaanse komediant Bill Cosby is Dinsdag drie tot 10 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan seksuele aanranding.

Die 81-jarige Cosby is ook op die lys van gevaarlike seksjagters geplaas, wat beteken dat hy vir die res van sy lewe berading moet ondergaan en op die seksoortrederslys geplaas word, berig die BBC.

Die akteur het nie 'n verklaring gemaak toe die regter hom die geleentheid gegee het om iets te sê nie.

Cosby is in April in 'n herverhoor skuldig bevind aan drie aanklagte van seksuele aanranding nadat hy Andrea Constand in 2004 bedwelm en gemolesteer het.

Meer as 60 vroue het na vore gekom en Cosby van seksuele wangedrag beskuldig, maar net dié een geval was ingevolge die wet onlangs genoeg om 'n verhoor te regverdig.

Regter Steven O’Neill het Cosby se aansoek om borgtog hangende appèl geweier, volgens CNN. O’Neill het onder meer gesê: “Mnr. Cosby, jy het haar pragtige jong gees gevat en dit vernietig.”

Hy is as 'n gewelddadige jagter beskryf ondanks die verdediging se pleidooi dat Cosby se ouderdom en die feit dat hy byna blind is, maak dat hy nie 'n gevaar inhou nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer