Kort Nuus
Kort Nuus

Kort Nuus

Henriette Lamprecht
Michelle Obama op besoek aan Afrika
Marokko
Die gade van die Amerikaanse president, Michelle Obama, het gister op ’n besoek aan Afrika vertrek.
Sy word van haar dogters, Sasha en Malia, en haar ma vergesel as deel van haar pogings om onderwys vir meisies te bevorder.
Sy besoek Morokko en Liberië en beoog om die kollig te laat val op die “laat meisies leer”-inisiatief van die Amerikaanse regering wat in 2015 deur pres. Barack Obama en die eerste dame van stapel gestuur is.
Die projek vorm deel van Amerika se poging om die struikelblokke uit die weg te ruim wat meer as 62 miljoen meisies wêreldwyd, in die besonder tienerjariges, in die gesig staar om toegang tot onderwys te kry, het ’n woordvoerder van haar kantoor gesê.
Michelle Obama word van die aktrise Meryl Streep na Marokko ver­gesel, waar hulle met jong meisies oor die uitdagings sal praat.
In Liberië sal sy ’n opleiding­sentrum vir lede van die Amerikaanse vredeskorps besoek asook by 'n skool aandoen saam met Liberië se pres. Ellen Johnson Sirleaf,­ Afrika se eerste verkose vroulike staatshoof en Nobelprys vir vrede-wenner. - Nampa/Reuters

Mislukte appèl ‘reuseterugslag’ vir Zuma
Suid-Afrika
Die besluit deur die hooggeregshof in Pretoria om pres. Jacob Zuma se aansoek om verlof tot appèl in die “spioenasiebandesaak” van die hand te wys, is deur minstens een politieke kenner as ’n “uiters groot terugslag” vir hom (Zuma) bestempel.
Die saak hou verband met ’n vroeëre besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om 783 aanklagte van korrupsie, rampokkery en bedrog teen Zuma te laat vaar. Die hooggeregshof het egter in April beslis dat dié besluit deur die NVG “irrasioneel” was, waarteen Zuma sowel as die NVG appèl aangeteken het. Dit is Vrydag van die hand gewys.
Dr. Bongani Ngqulunga, Zuma se woordvoerder, het gesê die president het kennis geneem van die uitspraak en is besig om dit te be­studeer.
Prof. Dirk Kotze, politieke ontleder verbonde aan Unisa, het by navraag gesê die hof se beslissing is ’n “uiters groot terugslag” vir Zuma.
“Sy geloofwaardigheid as leier is opnuut in die spervuur. Hy het geen gesag meer om hom teen korrupsie uit te spreek nie. Dit is uiters problematies en ’n dilemma, omdat die persoon wat gesien moet word om daarteen op te tree, nie daardie geloofwaardigheid meer het nie,” sê Kotze. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer