Kort nuus
Kort nuus

Kort nuus

Opuwo

Weerlig slaan tiener dood

Die 16-jarige Makuriremo Mbinge is Saterdag omstreeks 19:00 by die Otjikuanjimi-veepos in die Okahozu-nedersetting naby Opuwo deur weerlig doodgeslaan. Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het hy en drie ander seuns onder 'n boom gesit toe dit gereën het. Sy naasbestaandes is van sy dood in kennis gestel.

Omuthiya

Muur val op tweejarige

'n Storm het nog 'n slagoffer Saterdag om 17:00 by die Onyaviye-nederstting naby Omuthiya in die Oshikotostreek geëis. 'n Muur in Victor Namene Matheus (2) se huis het na bewering tydens die storm op hom geval.

Omahenene

Seun verdrink in kanaal

'n Elfjarige seun het Saterdag om 16:00 in 'n knaal by die Epalela-nedersetting naby Omahenene in die Omusatistreek verdrink terwyl hy saam met sy broer gespeel het. Sy liggaam is nog nie gevind nie.

Wanaheda

Messteek eis man

Mnr. Donal Rooi (24) het Sondag om 04:20 by die J&B Bar in Von Bachstraat in die hoofstad gesterf nadat hy glo deur 'n 19-jarige man met ’n mes eers in die nek en toe in die bors gesteek is. Die twee mans was na bewering in 'n stryery betrokke. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Wanaheda

Skote uit luukse motor

'n Man (33) is Saterdag omstreeks 04:45 in Caeserstraat in Soweto in sy been geskiet. Die slagoffer was na bewering met vier van sy vriende in 'n stryery betrokke toe 'n wit BMW verbygery het en in hul rigting geskiet het.

Windhoek

Gewapende rooftog by gastehuis

Drie onbekende mans het Saterdag omstreeks 01:45 by die Kutako-gastehuis in Hosea Kutakorylaan in die hoofstad glo twee Angolese mans en een Namibiese man met 'n vuurwapen en panga aangehou en beroof. Die verdagtes het glo met 'n sak met N$1 000 in kontant, 'n selfoon en motorsleutels weggekom. Niemand is al in hegtenis geneem nie en niks is teruggevind nie. Die polisieondersoek duur voort.

Omitara

Mans met wildkarkasse betrap

Drie mans (19, 21 en 57) is Saterdag omstreeks 06:00 op die plaas Mikos in die omgewing van Omitara in die Omahekestreek in hegtenis geneem met een gemsbok- en een vlakvarkkarkas in hul besit. Die verdagtes het na bewering vier honde en spiese gebruik om die diere te jag. Die polisieondersoek duur voort.

Outapi

Angolees vas oor 9 kg dagga

'n Angolese man (53) is Vrydag omstreeks 23:30 in Oshazipeni-lokasie in Outapi in die Omusatistreek tydens 'n polisieoperasie met vier sakke dagga van meer as 9 kg ter waarde van N$93 850 in sy besit betrap. Die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer