Korrupte landdros breek Shabir Shaik se rekord
Korrupte landdros breek Shabir Shaik se rekord

Korrupte landdros breek Shabir Shaik se rekord

’n Korrupte landdros van Limpopo wat tronk toe gestuur is vir sy misdade, het Shabir Shaik se rekord gebreek.

Ronnie Rambau (58), wat ’n landdros in Louis Trichardt was, is verlede jaar, op 5 Desember, stil-stil op mediese parool vrygelaat, nadat hy op 25 Oktober in die streekhof in Musina tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is.

Dit volg nadat hy in Junie verlede jaar skuldig bevind is op aanklagte van korrupsie en sameswering om korrupsie te pleeg.

Shaik is op 3 Maart 2009 op omstrede wyse op mediese parool vrygelaat, nadat hy twee jaar en vier maande van sy 15 jaar tronkstraf uitgedien het. Shaik, wat bekend geword het vir sy noue verbintenis met oudpres. Jacob Zuma, is op 2 Junie 2005 skuldig bevind aan korrupsie en bedrog.

Estene Willemse (42), wat ’n staatsaanklaer was, en Tivoneleni Lubisi (38), ’n prokureur, is saam met Rambau skuldig bevind. Willemse is tot tien jaar tronkstraf gevonnis en Lubisi tot 15 jaar agter die tralies.

VERSKEIDENHEID MISDRYWE

Die driemanskap is reeds in Februarie 2010 deur die Valke in hegtenis geneem. Hulle het mense, wat aangekla is van ’n verskeidenheid misdrywe, genader en omkoopgeld geëis. In ruil vir die geld het die aanklagte teen die beskuldigdes óf verdwyn óf hulle is ’n ligter vonnis opgelê.

In 2010 het die Valke te hore gekom van die drie se skelmstreke en in Februarie 2010 ’n lokval vir hulle gestel waartydens hulle in hegtenis geneem is.

Volgens Tshidi Mapole, woordvoerder vir Limpopo se departement van korrektiewe dienste, is Rambau vrygelaat nadat die tronkdokter bevind het hy is siek. Rambau was glo reeds siek voordat hy tronk toe gestuur is.

Mapole wou nie sê wat die siekte behels nie, maar Netwerk24 verneem betroubaar dit is ’n niersiekte wat glo vereis dat Rambau gereeld dialise moet ontvang.

Rambau het net minder as twee maande van sy vonnis uitgedien. Hy sal ingevolge die voorwaardes van sy parool onder huisarres wees buiten die kere wat hy vir mediese behandeling gaan.

Volgens Mapole is Rambau geklassifiseer as ’n medium-risiko-gevangene en moet hy gedurigdeur gemonitor word deur ’n tronkbeampte.

Lubisi en Willemse is so ver bekend nog agter tralies. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer