Korrupsie maak dood
Korrupsie maak dood

Korrupsie maak dood

Augetto Graig
Aan die begin van April het die president van die land, Hage Geingob, sy ontevredenheid oor ’n onwettige tender om ’n hysbak te bou uitgespreek.

Hy het gesê die hysbak is ten spyte van die afkeuring van die projek steeds vir ’n miljoen dollar geïnstalleer. Geingob het ’n ondersoek versoek en daarop aangedring dat die boewe vasgetrek word.

Op 15 April 2019 het ’n amptenaar by Staatshuis, die jong adjunk-direkteur van projekte en onderhoud, homself glo in sy motor geskiet.

Staatshuis het ’n amptelike waarskuwing uitgereik teen spekulasie oor dat die twee voorvalle verband hou.

Die polisie is sedertdien tjoepstil, maar hul ondersoek duur waarskynlik voort.

Dit lyk of enige ernstige poging om korrupsie teen te staan word met weerstand begroet.

As mens kyk na ander korrupsieraaisels waaroor die volk nou nog kop krap, soos byvoorbeeld die saak van die teenkorrupsiegetuie mnr. Lazarus Kandara, sien jy baie van hulle eindig oënskynlik ook in selfmoord.

Dikwels is die sterftes ook die einde van die ondersoek en enige verdere vervolging.

Een lewe is gewoonlik voldoende om die ware skuldiges los te kry.

Die praktyk van korrupsie word skaars onderbreek.

Vra dié wat weet en hulle sal jou sê jy kan nog net so maklik ’n rybewys koop, ’n dranklisensie hernu, ’n vals skoolsertifikaat kry of selfs ’n miljoen dollar se tender raakslaan met net ’n bietjie omkoopgeld.

In terme van regeringstenders is die goewerment se poging om korrupsie te keer ook nou mooi gepootjie.

Die Sentrale Verkrygingsraad word nou só gerem deur beweerde binnegevegte, wanbestuur en ondeursigtigheid dat die Vader alleen weet wat daai mense nog elke dag by die kantoor gaan doen.

Intussen ry die Chinese en ander buitelanders daagliks lorries vol hout wat bewaar moet word uit die land uit.

Selfs die minister van finansies beoog spesiale belasting om te verseker Namibië kry ten minste iets uit die plundery van ons kosbare bome.

Mosterd ná die maal, ás dit ooit so ver sal kom, as u my vra.

Te min, te laat. Hier sit ons in die middel van ’n droogteramp, terwyl die min bome wat ons het afgekap en verkoop word.

Korrupsie is al so deel van die Namibiese samelewing dat ons dit maar net moet aanvaar. Ons leierskap is dan selfs tevrede daarmee om dit te bevorder.

Kyk net na die bestuur van Namibië se staatsondernemings om voorbeelde te sien van hoe mislukkings met groot afskeidsbonusse beloon word, en korruptes later na nog hoër poste bevorder word.

Veral as dit kom by diensverskaffing sien mens die invloed van korrupsie op die gewone Namibiër se daaglikse lewe.

Die ergste is dat besluitnemers en die magtiges gedurig bly waar dienslewering redelik goed is.

Hulle sien nooit die volledige impak van daai pos wat vir ’n nefie gegee is nie, daai goedkeuring van die oom wat almal kan sien nie werklik weet wat hy doen nie, daai stukkie waardevolle inligting wat aan ’n vriend by die kroeg uitgelap is nie.

Inteendeel, ons korrupte amptenare geniet die praktyk van ’n guns vir ’n guns. Solank hulle en hul maats goed daarvanaf kom, steur hulle hulle nie aan die res nie.

Ons leiers het mos reeds vir die land gesterf. Hulle verdien al jare die melk en heuning in Namibië en sal dit neem al kos dit die armes wat.

“Arm mense is lui en dom,” vertel hulle mekaar by die enkele geleenthede as die onreg hulle raak.

“Die armes verdien hul lot,” sê hulle dan.

Mense in dié posisies wil nie die ware prys van korrupsie raaksien nie. Hulle ontken dat daar weens korrupsie ’n tekort aan behuising is.

“Nee, gee apartheid die skuld,” sê hulle. Apartheid was werklik die duiwel se eie werk in Namibië.

Dit was egter ’n tydjie terug.

Nou het die slinkse satan sy strategie verander.

Soos altyd kul hy dié wat sy plan moet uitvoer deeglik. Baie besef dit nie, maar die waarheid bly die waarheid. Korrupsie maak dood – ook dié wat self korrup is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer