Kopersmelter bestem vir Witvlei
Nuwe tegnologie bring die kopersmelterbedryf na die Omahekestreek.
Augetto Graig
Na die onlangse verkryging van ’n omgewingsklaringsertifikaat het bouwerk reeds begin om ’n mobiele modulêre kopersmelter in die Witvlei-omgewing op te rig.
Die smelterprojek van ongeveer N$70 miljoen (US$4,5 miljoen) skop met ’n navorsing- en ontwikkelingsfase af, volgens mnr. Ben Biwa van New Horizon Investments Group.
Die groep het met die Witvlei-dorpsraad in vennootskap getree en die raad besit nou 5% van die gesamentlike onderneming.
Die nuwe aanleg word tussen die bekende Witvlei-abattoir en die bestaande Namchar-houtskoolaanleg gebou. Dit is op die plaas Okatjirute skaars 2 km vanaf die B2-hoofpad tussen Windhoek en Gobabis geleë.
Die dorpsraad het 4,6 hektaar beskikbaar gestel en ook die ontwikkelaar genooi om grond vir behuising te kom besigtig.
Die uitvoerende hoof van die dorpsraad, mnr. Hendrik Muisoor, het in Januarie 2021 se toekenningsbrief gesê die grond word nie onbepaald toegeken nie, en gevra dat die uitvoerende direkteur van New Horizon, mnr. Berend van den Berg, die dorpsraad op hoogte moet hou van verwikkelinge.
New Horizon gebruik EXRAM Technology van Suid Afrika se 1 ton koepeloondtegnologie wat deur hul landgenote Global Smelters gebou word.
Biwa sê die smelter is modern en omdat dit in modulêre vorm vervaardig word, “moet ons net die modules bymekaarsit. Ons is al amper klaar daarmee,” sê hy.
“Ons begin eers met proeflopies. Hierdie is die eerste van sy soort in Namibië omdat hy koperoksiede smelt, anders as die kopersulfiede wat op Tsumeb gesmelt word. Dit is baie meer omgewingsvriendelik en ons kan dit amper ’n ‘groenprojek’ noem,” sê hy.
Aanvanklik sal die aanleg tot 40 werksgeleenthede bied, spesifiek waar moontlik vir inwoners van Witvlei wat die raad sal help identifiseer, maar teen volle produksie kan daar 100 werksgeleenthede geskep word,” sê Biwa.
Die aanleg sal 556 ton swartkoper per jaar kan vervaardig, vanaf ertsbronne binne die land, vanaf uitsluitlike lisensiegebiede in Omaheke en in die besit van die groep, en vanaf hul kopermyn op ’n plaas naby Kamanjab, sê Biwa.
Gedurende die openbare konsultasieproses is bekommernisse aangehoor oor lugbesoedeling, grondwater en verkeer veral omdat meer groot vragmotors die paaie sal gebruik.
Volgens Cuvepalm Consulting se omgewingsimpakstudie kan lugbesoedeling deur middel van ’n
sikloonlugreiniger bekamp word, en beperkte wateraanvraag met beheerde afloop van water kan grondwaterbesoedeling verminder.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie