Koperkoeu00ebls wil Warriors tref
Koperkoeu00ebls wil Warriors tref

Koperkoeëls wil Warriors tref

Sokker
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Chipolopolo (Koperkoeëls), die nasionale trots van Zambië, is gereed om môre die Tafel Lager Brave Warriors van Namibië in die eerste van vier kwarteindstryde van die 2018 Cosafabeker-kampioenskap in Polokwane onder die stof te loop.

Zambië is 'n gekweste span, want hy moes in die eindstryd van die 2017 Cosafabeker by die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg met 3-1 die knie teen Zimbabwe buig. Hy moes ook met die plaatfinaal van die 2016 Cosafabeker teen Namibië in Windhoek, die aftog met 1-0 blaas.

Die Koperkoeëls hoop boonop om op hul bra gemiddelde vertoning by die 2018 Afrika-Nasies­kampioenskap (CHAN) in Marokko te verbeter.

Wedson Nyirenda, voormalige aanvallende speler van Kaizer Chiefs in Suid-Afrika, was toe nog as afrigter in beheer van Zambië. Nyirenda wat sedert September 2016 die Chipolopolo afgerig het, het einde verlede week onder 'n wolk van onsekerheid bedank nadat hy in onguns by die Zambiese Sokkervereniging (FAZ) verval het.

Sommige kommentators in Zambië meen die FAZ is ontevrede weens Nyirenda se onvermoë om Chipolopolo vir die 2018 Fifa Wêreldbeker in Rusland te laat kwalifiseer. Boonop kon Zambië net tot in die kwarteind­stryd van die 2018 CHAN-kompetisie vorder waar hy met 1-0 deur Soedan gestuit is.

Nadat die Warriors met 1-1 teen Zambië in die groepfase gelykop gespeel het, het Namibië hom ook tot in die kwarteindronde van die 2018 CHAN laat geld, maar is deur Marokko, die uiteindelike kampioen, met 2-0 geklop.

Die ZAF moes laas week rond­skarrel om betyds 'n tussentydse plaasvervanger vir Nyirenda aan te stel, wat toe reeds op pad na Baroka FC in Suid-Afrika was waar hy as hoofafrigter by dié premierligaklub aangestel is.

Die ZAF se keuse het op Beston Chambeshi geval, wat nou met sy voorganger se kalwers by die 2018 Cosafa-toernooi gaan ploeg.

Hierteenoor lyk die Warriors-kamp soos 'n toonbeeld van bestendigheid, met hoofafrigter Ricardo Mannetti wat al vir etlike jare aan die stuur van die nasionale span is en boonop uitstekend gevaar het, selfs in die tydperk toe geen premierliga in die land gespeel was nie.

Chambeshi se finale 20-tal wat geheel uit plaaslike spelers saamgestel is, sluit net drie manne in wat verlede jaar in Rustenburg in aksie was. Daar is 17 ywerige manne wat moontlik hul eerste verskyning by 'n Cosafa-wedstryd kan maak. Die drie oorblywendes is Isaac Shamujompa (Green Buffaloes, middelveldspeler), Jack Chirwa en Collins Sikombe van Lusaka Dynamos.



'NIE MAKLIK NIE'

Ronald Ketjijere, stuurman van die Brave Warriors, glo sy manne het die talent en nodige ondervinding om vanjaar weer die Cosafa-beker te kan wen.

“Met ons mengsel van nuwe en gesoute manne is die gees tussen die ouens op sy beste. Ons voorbereiding onder die wakende oog van afrigter Mannetti en sy tegniese span het goed afgeloop en die ouens is almal topfiks. Ons is hier om Namibië te verteenwoordig en ons brand om goed te vaar.

“Maklik gaan dit nie wees nie. Dis Zambië in die kwarteind­stryd, wat vir beide spanne maak of breek is.

“Dit sal lekker wees om hulle te toets nadat ons in Januarie gelykop teen hulle gespeel het.

“Ons neem dit een wedstryd op 'n slag, maar ons doelwit is om die kroon as kampioene te lig. Ons span het net 'n bietjie verander sedert ons in 2015 die Cosafa-beker gewen het. Daar is jeug met baie spoed, terwyl die senior manne hulle rustig moet hou en sake in die regte rigting stuur,” het Ketjijere gesê, wat ook in 2015 die kaptein was.

Mannetti wag nog op die be­skikbaarheid van Wangu Gome (Platinum Stars), Denzil Haoseb en Ananias Gebhardt (Jomo Cosmos) wat môre by promosie-relegasie wedstryde van hul RSA-klubs betrokke is.

Selfs die afwesigheid van dié drie sterre sal egter nie Mannetti se planne in die wiele ry nie.

“Zambië is lief om met hul vleuels aan te val en dan die bal binne toe te speel. Hulle het dit tydens die 2018 CHAN gedoen en sal dit waarskynlik weer probeer. Ons het goed beplan en is gereed om hulle te neutraliseer.

“Dié botsing is vir beide nasies van kardinale belang, want beide is besig om vir 2019 Afcon kwalifiserende wedstryde in September voor te berei,” het die kaptein verseker.

Die Brave Warriors het in 2015 vir die eerste keer in die geskiedenis die Cosafabeker omhoog gelig. Met die 2016 Afconbeker-kampioenskap in Windhoek het Namibië die plaatfinaal met 1-0 teen Chipolopolo gewen.

Verlede jaar was die Warriors teen Suid-Afrika in die plaateindstryd betrokke, waar hulle met 1-0 die knie moes buig.

Zambië se spelersgroep: Doelwagters: Toaster Nsabata, Kenny Mumba. Verdedigers: Ziyo Tembo, Isaac Shamujompa, Paul Banda, Billy Mutale, Martin Sikaonga, Shemmy Mayembe, Bornwell Silengo. Middelveldspelers: Cletus Chama, Collins Sikombe, Larry Bwalya, Kelvin Kampamba Mubanga, Benson Sakala, Jackson Chirwa, Ngosa Sunzu, John Ching'andu. Aanvallers: Ronald Kampamba, Lazarous Kambole, Emmanuel Chabula.

Namibië: Doelwagters: Ratanda Mbazuvara, Maximillian Mbaeva. Middelveldspelers: Ferdinand Karongee, Vitapi Ngaruka, Teberius Lombard, Donovan Kanjaa, Riaan Hanamub, Charles Hambira, Emilio Martin. Aanvallers: Dynamo Fredericks, Ronald Ketjijere (kaptein), Gustav Isaak, Absalom Iimbondi, Ikuaterua Hoveka, Marcel Papama, Willem Pinehas, Deon Hotto, Panduleni Nekundi, Itamunua Keimuine.

Die Brave Warriors en Chipolopolo stap môre om 15:00 by die Ou Peter Mokaba-stadion op die veld (SuperSport 9), voordat Lesotho en Swaziland in die tweede semifinaal sal koppe stamp. In Sondag se ander twee semifinale sal Suid-Afrika en Zimbabwe die onder­skeie wenners van die kwalifiserende groepe aandurf.

- Bronne: Lusaka Times, FAZ Facebook, bbc.com, Zambia Daily Mail, Football Association of Zambia, Cosafa.com, Africanfootball.com, kickoff.com, NFA.org.na

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer