‘Koop SAL-kaartjies,’ vra Gordhan

03 December 2019 | Afrika
Christiaan Du Plessis

Die regering het die afgelope paar dae glo druk gesprekke met kredietverskaffers gehad om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se kop bo water te hou terwyl die lugdiens na bewering in die komende maande ’n “radikale herstruktureringsproses” sal ondergaan.

Die SAL se geldelike posisie is jare reeds benard, maar die onlangse staking daar blyk die lugdiens op sy knieë te gedwing het.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Sondag laat in ’n verklaring gesê die SAL se geldsake het die afgelope paar weke ná die staking drasties versleg.

“Die staking deur Numsa en Sacca (die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitpersoneel) het groot skade veroorsaak aan die reputasie en bedrywighede en bygedra tot die agteruitgang in die geldsake van die lugdiens. Die SAL kan daarom nie in sy huidige vorm bly voortbestaan nie,” sê Gordhan.

“Die lugdiens sal nou ’n radikale herstruktureringsproses ondergaan om sy finansiële en bedryfsvolhoubaarheid te verseker. Daar is geen ander manier vorentoe nie,” sê hy.

Gordhan brei nie uit oor wat presies hierdie herstruktureringsproses behels nie, maar sê wel dat verskeie opsies oorweeg word met die oog daarop om die lugdiens winsgewend te maak.

“Oor die afgelope paar dae was daar intense gesprekke met kredietverskaffers om die bedryfs- en strukturele oorgang oor die volgende paar maande te finansier,” sê Gordhan.

Gordhan het kliënte aangemoedig om aan te hou om kaartjies by die lugdiens te koop aangesien “dit ons kollektiewe verantwoordelikheid as Suid-Afrikaners is om die SAL te ondersteun in sy poging om verkope te herstel”.

Kapt. Grant Back, voorsitter van die vereniging van SAL-vlieëniers (Saapa), sê hy is tans in die duister oor wat presies die minister se oorgangsplanne behels.

“Senior mense wat by die proses betrokke is se monde is gesnoer,” sê hy.

Volgens hom gaan hy Maandag Johannesburg toe ry ingeval daar dringend vergader moet word en hy glo daar sal deur die loop van die week meer besonderhede na vore kom.

Rapport het berig ’n transaksie om die SAL te red sou Vrydag aangekondig word. Dit sou behels dat Ethiopian Airlines ’n belang in die SAL koop sodat hy finansiering kan kry.

Die aankondiging Donderdagaand dat die grootste reisagentskap in die land, Flight Centre, nie meer vliegkaartjies van die SAL gaan verkoop nie, skep nou onsekerheid oor dié transaksie.

SALARISSE

Intussen berig Nellie Brand-Jonker die salarisse van personeel vir November is nou ten volle betaal.

Personeel moes nog die res van hul salarisse ontvang nadat hulle vandeesweek net die helfte gekry het.

Dié betaling sou eers vandag geskied het.

Beeld het vandeesweek berig Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, het in ’n brief aan personeel gesê hulle kon nie betyds die nodige finansiering finaliseer om al die salarisse te betaal nie.

Zazi Nsibanyoni-Mugambi, president van Sacca, het die nuus aan Netwerk24 bevestig.

Sy weet nie waar die SAL die finansiering gekry het nie.

Tlali Tlali, woordvoerder van die SAL, het dit ook bevestig.

Hy het aan Fin24 gesê die lugdiens werk daaraan om “R2 miljard bedryfskapitaal te verkry om sy daaglikse bedrywighede te finansier, insluitende salarisse”.

“Ons bevestig alle personeel het die balans van hul Novembersalarisse ontvang,” het hy gesê. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Nog 38 leerlinge toets positief vir Covid-19

1 uur gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê nog 38 leerlinge van 'n sekondêre skool in die Onandjokwe-distrik het positief vir Covid-19...

Ligloop vir motorswendelary

4 ure gelede | Misdaad

’n Onlangse misdaadverslag van die Namibiese polisie waarsku die publiek teen ’n sindikaat wat goedkoop motors onder valse voorwendsels op sosiale media adverteer. Die swendelaars...

Feedmaster se Namib Laboratories doen nou Covid-toetse

4 ure gelede | Tegnologie

Die voermaatskappy Feedmaster se laboratorium wat in 2018 opgerig is om diagnostiese mikrobiologiese-, serologiese- en polimerase-kettingreaksie (PCR)-toetse vir die Namib Meulens-groep van maatskappye te doen,...

Psemas-tender sluit

17 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, het Woensdag (23 September) gesluit. Dit volg nadat sekere vereistes in...

Babelse verwarring oor toerismeregulasies

17 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg – Met Babelse verwarring wat in die toerismesektor oor die nuwe Covid-19-regulasies heers, word steeds op meer duidelikheid gewag.“Ons sal weet sodra daar...

Gemsbok soek lafenis

17 ure gelede | In beeld

Die Desert Hills Lodge in die Naukluft-berge naby Sesriem het 'n spesiale besoeker gehad wat sy dors in die swembad kom les het. Volgens mnr....

N$30 miljoen dringend nodig om rooisprinkane te beveg

17 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh – Sowat N$30 miljoen se benodighede word “sonder oponthoud” vir die bestryding van die Afrika rooitreksprinkaan in die Zambezistreek benodig. Dit, om te...

Weer vir 28 September

17 ure gelede | Weer

BINNELAND: Koud in die oggend, andersins sonnig en matig tot warm, maar baie warm in die Noorde met 'n paar wolke wat oor die Zambezistreek...

Skoonmaakveldtog takel landswye probleem

17 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – 'n Geskatte 61 ton menslike ontlasting en huishoudelike rommel word daagliks in die openbare areas in Windhoek se informele nedersettings gestort. Dié...