Koolstormloop in Kavango-Oos
Koolstormloop in Kavango-Oos

Koolstormloop in Kavango-Oos

NAMPA
So vroeg as drieuur soggens begin sowat 100 vroue in die omgewing van Rundu hul daaglikse tog van omtrent sewe kilometer na die Uvhungu-Vhungu-nedersetting.

Van hulle kan ‘n taxi bekostig, ander moet loop. Daar gekom, kamp hulle.

Hul doel: Om kool en ander groente by die Salem-koöperatief in Kavango-Oos te koop sodat hulle ‘n bestaan kan maak. Die groente word op straat op Rundu of by winkels op dié dorp gesmous.

Een van die vroue, al die pad van Sauyemwa, sê weens die droogte het hulle nie ‘n keuse as om op die besproeiingskema staat te maak nie. In die verlede kon hulle hul eie groente by hul nedersettings oes en verkoop.

“Ons word nou gedwing om dié drastiese stap te doen en by Salem te slaap, want mense stroom hierheen om kool te koop,” sê sy.

‘n Verteenwoordiger van die koöperatief, me. Laurenta Nkandanga, sê dis goeie besigheid, maar ook húlle staar uitdagings in die gesig.

Water is beperk, sê sy. Die waterpomp wat voorheen gebruik is om water uit die rivier sowat ‘n kilometer weg te pomp, het nie die kapasiteit om al die boere by Salem te onderhou nie.

Hulle het ‘n groter pomp gekoop, maar dit is beskadig.

“Ons vra net vir ‘n goeie Samaritaan of die regering om ons halfpad tegemoet te kom sodat ons ‘n pomp kan kry wat ons almal kan onderhou,” sê Nkandanga.

Sowat 43 kleinskaalse boere, die meeste vroue, boer op dié kleinhoewe van 34 hektaar.

Die Sambyu- tradisionele owerheid het die grond in 1985 geskenk om die kleinskaalse boere te huisves. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer