Kontrakteur op Rundu steel glo boumateriaal
Kontrakteur op Rundu steel glo boumateriaal

Kontrakteur op Rundu steel glo boumateriaal

Volgens die klagstaat het die beskuldigde glo die misdaad tussen Februarie en Maart vanjaar gepleeg.
Yandi Du Plessis
Mnr. Marthinus du Toit (36) wat Donderdag in hegtenis geneem is in verband met die beweerde diefstal van boumateriaal wat aan sy werkgewer, Helmsman Group, behoort het, het Vrydag in die landdroshof op Rundu verskyn.

Du Toit het voor landdros Sonja Samupofu verskyn op 'n aanklag van diefstal ná hy glo boumateriaal ter waarde van N$1,4 miljoen vanaf 'n bouperseel van 'n winkelsentrum in die Divundu-nedersetting in die Kavango-Oosstreek gesteel het.

Volgens die klagstaat wat die nasionale nuusagentskap Nampa Sondag onder oë gehad het, het Du Toit glo die misdaad tussen Februarie en Maart vanjaar gepleeg vanaf die terrein waar hy as kontrakteur gewerk het.

Die items wat hy na bewering gesteel het, sluit in vragte sement ter waarde van N$350 000, 10 vragte betonstene ter waarde van N$233 450, 5 000 superstene ter waarde van N$500 000, 130 eenhede staaldraad ter waarde van N$275 253 en 10 ­hoekysters ter waarde van N$283 235. Sommige van dié items, soos 'n vrag sand, is by die Bagani Gekombineerde Skool en by die Andara-inkoopsentrum opgespoor.

Du Toit het ook na bewering die bouperseel se grondverskuiwingstoerusting gebruik om 'n grondpad na die Ndhovu-lodge in die Mukwe-kiesafdeling aan te lê.

Die beskuldigde is op borgtog van N$20 000 vrygelaat en sy saak is tot 7 Oktober uitgestel.

Mnr. Bernard Tjatjara van Bernard Tjatjara and Co Incorporated Law Firm het as sy regsverteenwoordiger opgetree.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer