Kontrakteur dagvaar staat vir N$75 m.
Kontrakteur dagvaar staat vir N$75 m.

Kontrakteur dagvaar staat vir N$75 m.

Amupolo Building Construction het verlede maand 'n saak by die Windhoek-hooggeregshof aanhangig gemaak waarin die regering beskuldig word dat hulle kontrakbreuk gepleeg het.
Ileni Nandjato
Ileni Nandjato op Ondangwa



Die ministerie van werke en vervoer word hof toe gesleep omdat hulle weier om 'n ­kontrakteur N$75,3 miljoen te betaal vir die bou van die Omusati-polisie se hoofkantoor.

Amupolo Building Construction het verlede maand 'n saak by die Windhoek-­hooggeregshof aan­hangig gemaak waarin die regering beskuldig word dat hulle kontrakbreuk gepleeg het.

Die kontrakteur dring aan op N$6,29 miljoen vir erkenning van skuld, N$686 991 vir retensiegeld en N$68,4 miljoen vir bykomende werk.



Saak besonderhede

Die regering het in November 2013 'n tender ter waarde van N$54 miljoen aan Amupolo Building Construction toegeken om die hoofkantoor te bou, maar weens 'n haalbaarheidstudie wat nooit gedoen is nie, kon die werk nie betyds voltooi word nie.

Die tenderbedrag het as gevolg van bykomende werk tot N$103 miljoen gestyg.

Volgens die hofdokumente het die werkeministerie en Amupolo Build­ing Construction se eienaar, mnr. Erasmus Amupolo, in 2017 'n vergadering belê waar Amupolo aangesê is om die perseel, wat 98% voltooi was, aan die ministerie te oorhandig.

“Tydens dié vergadering is ooreengekom die eiser (Amupolo) sal die perseel aan die verweerder oorhandig, die onvoltooide werk sal 10% van die tenderbedrag uitmaak en alle opgeloopte boetes vir vertragings sal deur die verweerder laat vaar word,” lui die hofdokumente. Verder is gesê die uitstaande bedrag moet betaal word vir werk wat reeds voltooi is.



Versuim om te betaal

Amupolo het aan Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, gesê nadat hy die perseel op 16 Junie 2017 aan die ministerie oorhandig het, is hy met N$8 miljoen gepenaliseer.

Die ministerie het hom net N$39 miljoen betaal, terwyl sy fakture vir bykomende werk nie betaal is nie.

Volgens Amupolo het die regering versuim om betalingsertifikate te vereffen wat deur sy hoofagent in Desember 2017 ter waarde van N$6,2 miljoen, sowel as N$68,4 miljoen vir bykomende werk, uitgereik is.

Die regering word ook daarvan be­skuldig dat hulle nie hul ooreenkoms nagekom het om die helfte van die opgeloopte N$1,3 miljoen in retensiegeld (N$686 991) te betaal nie.



Bykomende werk

Amupolo sê die bykomende werk sluit in die vervoer van C4-boustene van Ruacana af. Aangesien die perseel in Oshana geleë is, moes hulle C4-boustene gebruik om te verhoed dat ondergrondse water die gebou binnedring.

Ander bykomende werk sluit in om pypleidings te herlei, om fondasies in 'n moerasgebied te lê en werk aangaande 'n grondbalk om die grensmuur.

Die regeringsprokureur het verlede Woensdag namens die ministerie 'n aansoek ingedien om die saak te verdedig. Regter Nate Ndauendapo het die partye opdrag gegee om 'n ­konferensie oor saakbeplanning op 6 Augustus by te woon. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer